Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Parkeer en betáál
Betaalde straatparkering het onlangs teruggekeer en betaling by munisipale parkeerterreine word Maandag 14 September weer ingestel. Foto: Francois Lombard

Inwoners en besoekers het die afgelope net meer as vyf maande gratis parkering oral in die dorp geniet, maar dit het vandeesweek verander.

Betaalde straatparkering het Maandag 7 September teruggekeer en betaling by munisipale parkeerterreine word, volgens Stuart Grobbelaar, Stellenbosch-munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, van Maandag 14 September af weer ingestel.

Die betaalde parkering in die middedorp is weens nasionale regulasies met die ingang van Vlak 5 van die nasionale inperking opgeskort.

Parkeerwagte van die diensverskaffer Street Parking Solutions sou na verwagting op 1 September terugkeer, maar dit het nie gebeur nie.

Grobbelaar sê ’n dringende vergadering is toe met die munisipaliteit se prokureurs gehou om te verseker dat die diens so gou as moontlik hervat kan word. “Talle sakeondernemings in die middedorp het die munisipaliteit genader en gevra dat die diens so gou as moontlik hervat moet word, omdat dit tot ’n baie hoër omset in beskikbare parkeerplekke naby hul ondernemings lei. Sonder enige vorm van betaling vir hierdie parkeerplekke parkeer mense graag van vroeg tot laat op dieselfde parkeerplek, wat dit moeilik maak vir klante om parkering naby aan ondernemings te kry.”

Rank Property Administrators het reeds in die middel van Julie namens kliënte in De Wet-sentrum sowel as hul ander huurders in Kerk-, Andringa-, Bird-, en Ryneveldstraat ’n e-pos aan die munisipale bestuurder gestuur waarin hulle hul misnoeë oor die situasie met straatparkering in die middedorp uitspreek. “Daar is tans groot frustrasie oor die feit dat mense heeldag in die strate parkeer en dat potensiële besoekers die strate ’n paar keer deurry en dan die plek verlaat. Mense beset ook laaisones vir lang tye,” lui die e-pos.

Intussen het die raad ook ’n item goedgekeur met betrekking tot die voorgestelde hersiening van die parkeertariewe. Volgens Grobbelaar is die verlaagde tariewe bekendgestel vir openbare terugvoering en die sluitingsdatum was 27 Augustus. Die kommentaar word nou verwerk en ’n item sal na verwagting eersdaags voor die raad dien.

Volgens die voorgestelde tariewe bly die eerste halfuur steeds gratis en word die tarief vir 31-59 minute dan verlaag met R2 van R10 tot R8. Motoriste wat een tot twee uur parkeer, gaan R16 in plaas van R20 opdok en R20 vir twee tot drie uur in plaas van R25.

Dié tariewe geld by parkeerterreine.

Gratis parkering sal steeds vir openbare vakansiedae en Sondae geld. ’n Maandelikse permit sal volgens die voorgestelde verlaagde tariewe R800 in plaas van R1 000 kos.

Vir straatparkering sal dit R8 per uur in plaas van R10 per uur kos.

Indien goedgekeur sal die nuwe tariewe tot 30 Junie 2021 geld.

“Die stelsel gaan dieselfde werk as vantevore, met alle nodige Covid-19-protokol wat deur die diensverskaffer ingestel word om die werkers sowel as die publiek te beskerm,” sê Grobbelaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.