Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Passie help Monique wen

As jy by die Saunders-familiewoning instap, is dit vanselfsprekend hoekom kampioensjefs hier opgelewer word, want dis weinig dat daar nie ’n heerlike dis aan die kook is nie. En met Eikestadnuus se besoek verlede Donderdag (10 Junie) aan die Saunders-familiewoning was dit geen uitsondering nie.

Monique Saunders (23) van Idasvallei het onlangs as wenner van die VIA-kompetisie Sjefhuis met die kroon weggestap.

“Ek kon nie die goeie nuus binnehou nie. Toe ek uitvind ek het gewen, het ek die opgewondenheid met my familie gedeel,” vertel die oud-leerder van Idasvallei Primêr en Hoërskool Luckhoff.

Monique het ná skool eers probeer om menslike hulpbronne te studeer, maar het gou besef die potte is waar sy haar geluk sal vind. Sy het toe haar studies in gasvryheid by Boland Kollege voortgesit.

Sy is verlede jaar as gevolg van die Covid-19-pandemie by haar werk afgelê nadat die onderneming waar sy gewerk het, nie meer haar dienste kon bekostig nie.

“Ek het toe vir die kompetisie ingeskryf omdat ek gevoel het ek het niks meer om te verloor nie,” vertel sy.

In die proses was Monique hoopvol, maar sy was steeds nie oortuig dat sy die kompetisie sou haal nie.

“ ’n Video moes toe ingestuur word waarin ek ’n bietjie meer van myself vertel. Dit was nou ’n proses om die video-opname te maak – my ma moes die kamera vashou!” skerts sy.

Ná ’n uur se gesukkel het Monique uiteindelik die video-opname ingestuur en haar deelname aan die kompetisie is daarna aangekondig.

Sy moes haar vernuf in die kombuis vir agt dae teen ander sjefs toets, waar sy die potte onder die wakende oog van sjef Bertus Basson laat prut het. “Ek het die kompetisie tot my verbasing gewen en met die geldprys weggestap terwyl een van die ander sjefs ’n internskap by een van Basson se restaurante ontvang het.”

Monique se liefde vir kosmaak en lekker eet kom van kindsbeen af van haar ouma, Hilda Saunders, wat ’n paar jaar gelede oorlede is.

“Ouma was ’n wonderlike mens wat lief was vir kosmaak, maar ook net vir die blote feit dat sy iemand kon voer. Glimlagte het die binnemure van haar woning aan ’n lang tafel vol lekker etes gevul.”

Dit neem iemand nie lank om te besef dat Monique – vol energie, passie en liefde met ’n paar lepels dryfkrag – nog groot hoogtes gaan bereik nie.

Sy het Basson ná die kompetisie gekontak omdat sy steeds nie werk kon kry nie, en sy werk nou by Overture waar sy hope kennis opdoen.

“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid wat ek gegun is en doen daagliks baie kennis in die kombuis op. Dit is ’n groot voorreg om te sien hoe dinge in die omgewing werk, en om deel te wees van die proses om ’n bord vol liefde aan ons kliënte te gee, bly ’n voorreg.”

Monique wil graag eendag haar eie onderneming hê waar sy ’n stukkie van haarself kan deel met die kos wat sy voorsit, en wil ook haar groenvingers toets met haar eie speserye- en groentetuin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.