Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Plaaskinders leer musiek fluit-fluit

’n Projek wat al vir byna vier jaar gratis musieklesse vir plaaskinders aanbied, het borge nodig om dit aan die gang te hou.

Bottelary Blokfluitblasers (BBB) is tot dusver alleenlik deur ’n private trust, Narollah, geborg. Die trust gaan egter gebuk onder die swak ekonomie en is nou op soek na nog borge. BBB is as ’n niewinsgewende-organisasie geregistreer.

Die projek het in Augustus 2014 met 14 kinders begin, maar gee nou blokfluitlesse aan altesaam 266 kinders van die plaas Koopmanskloof sowel as vyf ander omliggende plase op die Bottelarypad.

Altesaam 40 kinders by Laerskool Bottelary, waar musiek nie as vak aangebied word nie, kry ook lesse. Elke kind kry twee keer per week lesse en daar is vier onder-wysers en vyf vrywilligers.

Mario Williams, een van die onderwysers wat lesse gee, sê die doel van die projek is om hoop deur middel van musiek in die kinders se lewe te bring. “Hoop in die sin dat daar iets baie groter is as wat jy elke dag op die plaas sien. Nie al die kinders gaan noodwendig musikante word nie, maar ons wil glimlagte op die kinders se gesigte sien.”

Manuel Jardine, ook ’n onderwyser, sê hulle hou die lesse interessant vir die kinders deur hulle liedjies te laat sing wat hulle op die plase sing.

“Veral die liedjies wat hulle naweke op die plase sing. Ons herskryf dit. By die skool doen ons koortjies wat in die skool gesing word.”

Hulle het die blokfluit gekies omdat dit ’n redelik bekostig­bare instrument is wat kinders in staat stel om dit huis toe te neem en daar ook te oefen.

“ ’n Kind gaan nie sommer sê hy wil blokfluit speel nie, want ander instrumente klink lekkerder op die oor, maar die ding van blokfluit is jy kry verskillende soorte en as jy die verskillende klanke bymekaar sit, kry jy ’n unieke klank. Dit is so parallel aan daardie kind wat op die plaas is. Daardie kind se stem op sy eie gaan dalk nie gehoor word nie, maar die oomblik as hulle saamkom as ’n eenheid, skep hulle ’n unieke klank,” vertel ’n opgewonde Williams.

Hy sê die kinders het al die geleentheid gehad om buite die plase ook op te tree, waar hulle hul eie stories kon vertel.

“Elkeen van hulle het ’n unieke storie. Net omdat hulle van die plaas af kom, is daar dalk ’n stigma wat gekoppel word dat hulle nie ver gaan kom in die lewe nie, maar die projek skep ’n platform wat daartoe kan lei dat families se lewe kan verander.”

Met die projek wil hulle egter ook hê die kinders moet meer gebalanseerd wees. “As jy musiek wil doen, moet jy eers jou huiswerk doen. Ons het ’n balans,” sê Williams.

Williams en Jardine se groot droom is om die projek na al die plase in die omgewing van Bottelary (omtrent 40 plase) uit te brei.

“Musiek bring gemeenskappe bymekaar. Buiten die kinders wil ons later ook volwassenes die geleentheid gee om musiek te beoefen.”

Shané Jansen (13) en Caylin Swarts (14) is al van die begin van die projek af deel daarvan. “Ek het ’n begeerte gehad om musiek te leer, maar nie gedink ek kon dit doen nie. Toe ek dit eers probeer, het ek dit baie geniet,” vertel Shané.

“Ek hoop om ’n beter toekoms te hê en geniet alles wat ek hier leer,” sê Caylin.VMense wat betrokke wil raak of ’n skenking wil doen, kan Williams by 083 786 7609 of Jardine by 072 541 8395 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.