Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Plaaslike dokters red duisende só
Dr. Usha Lalla en prof. Coenie Koegelenberg.Foto: Damien Schumann

Dokters by Tygerberg-hospitaal het te midde van die Covid-19-pandemie ’n waagmoedige, minder bekende behandeling toegepas, wat nie net die dreigende ventilatortekort omseil het wat deur die groot getalle dodelike siek pasiënte veroorsaak is nie, maar moontlik duisende pasiënte se lewe gered en ’n meer pasiënt-vriendelike ervaring gebied het.

Mediese kundiges van die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad (UK) het in ’n navorsingsartikel, wat vandeesweek in Lancet se EClinicalMedicine gepubliseer is, beskryf hoe hulle die helfte van al hul dodelik siek pasiënte kon behandel deur hoëvloei- nasale suurstof (HVNS) toe te dien en meganiese ventilasie te vermy.

HVNS is ’n nie-ingrypende suurstofbehandeling wat suurstof teen ’n hoë vloeitempo – tot 60 liter per minuut – deur nasale buise na die longe voer. HVNS word as “sagter” op pasiënte as meganiese ventilasie beskou en stel hulle in staat om te eet en met ander mense in die saal te praat en wisselwerking te kan doen. Daarenteen is ventilasie ’n ingrypende behandeling wat verg dat ’n buis in die pasiënt se lugweg gedruk word, wat ernstige ongemak veroorsaak en in sommige gevalle verdowing noodsaak.

“Die eerste sewe pasiënte het almal ventilasie ontvang, en hulle het ongelukkig almal gesterf,” vertel dr. Usha Lalla, wat die Covid-19-ISE bestuur. “Ek onthou die dag so goed – twee van die pasiënte het op dieselfde dag gesterf en die ISE was in trane,” sê Lalla, wat ook ’n spesialis in interne geneeskunde aan die US se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe is.

Destyds het ’n paar anekdotiese verslae oor die gebruik van HVNS-behandeling vir Covid-19-pasiënte verskyn, maar dokters was in die algemeen teësinnig om hierdie minder bekende metode te gebruik.

“Ek onthou ek het dit met kollegas bespreek, onder wie prof. Mervin Mer van die Universiteit van die Witwatersrand. Ek het gesê talle van hierdie pasiënte het net suurstof nodig; hoekom probeer ons dit nie?

“Die eerste pasiënt wat ons met HVNS behandel het, was binne vyf dae op en het op haar selfoon begin gesels – in skrille kontras met pasiënte wat twee tot drie weke geventileer is,” sê Lalla. “Dit het ons hoop gegee dat ons dalk nie die slagting sal beleef wat in ander wêrelddele ervaar is nie.”

Hulle het nog pasiënte met HVNS behandel en het veel hoër herstelkoerse met hierdie metode as deur meganiese ventilasie behaal. Nuus oor die sukses van HVNS-behandeling het vinnig na ander hospitale landwyd versprei, wat dit ook vinnig begin gebruik het.

Hierdie behandeling is ook by Kaapstad se Hospital of Hope ingestel, waar ingenieurs die infrastruktuur op kort kennisgewing moes aanpas om voorsiening vir die nuwe terapie te maak.

Hierdie behandeling vervang nie ventilasie nie, wat steeds wyd in die behandeling van Covid-19-pasiënte gebruik word, maar verskaf ’n bykomende “wapen” in dokters se arsenaal in die stryd teen Covid-19.

“In ’n hulpbron-beperkte omgewing te midde van ’n pandemie het hierdie ’n enorme uitwerking op die bestuur van pasiënte gehad,” sê prof. Coenie Koegelenberg, ’n US-pulmonoloog wat ook in die Tygerberg-hospitaal se ISE werk.

Anders as meganiese ventilasie wat in die ISE bestuur moet word, kan HVNS in ’n algemene saal toegedien word – op voorwaarde dat die hospitaal se infrastruktuur voorsiening vir die vereiste hoër suurstofvloei maak.

Dit kan voorts bestuur word deur dokters en verpleegkundiges wat nie ISE-opleiding het nie, wat ook ’n besparing op die land se skaars gesondheidsorghulpbronne meebring.

Die US-dokters (Tygerberg-hospitaal) het met prof. Greg Calligaro se span by die UK (Groote Schuur-hospitaal) saamgewerk om data te kombineer van sowat 300 Covid-19-pasiënte wat HVNS-behandeling by hierdie fasiliteite ontvang het.

Die voortspruitende artikel is verreweg een van die grootste studies tot op hede oor HVNS – nie net by Covid-19-pasiënte nie, maar ook oor enige vorm van longontsteking.

“Ons studie het getoon HVNS kan suksesvol gebruik word om meganiese ventilasie by die helfte van alle ernstig siek pasiënte te vermy,” sê Koegelenberg.

“Hierdie pasiënte het almal aan die kriteria vir akute asemnoodsindroom voldoen. As die aanbevole behandelingsprotokol gevolg is, sou almal van hulle meganies geventileer moes word – tog het ons daarin geslaag om hulle suksesvol daarsonder te behandel.”

Lalla sê hoëvloei- nasale suurstof het ’n enorme verskil gemaak aan hul vermoë om pasiënte gedurende hierdie pandemie te behandel.

“Maar dit was glad nie maklik om in die middel van ’n pandemie van koers te verander van ventilasie na HVNS nie,” sê Lalla.

“Almal het net saamgespan – gesondheidswerkers, hospitaalbestuur, vrywilligers; almal het net gedoen wat gedoen moes word… en dit was wonderlik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.