Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Plaaslike skrywers skitter

Ná 223 nuutgeskrewe tekste, 478 mentorskapsessies en die fyn beoordeling van 255 video’s deur ’n bekwame beoordelaarspaneel, is die wenner van ATKV-Tienertoneel vir 2020 Saterdagaand digitaal aange­kondig.

Nichola Viviers (18), ’n matriekleerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, het die beoordelaars met haar selfgeskrewe teks, Bonuspunt, oorrompel en is as die algehele wenner gekroon.

Jeanne-Marie Koekemoer (16) van die Hoërskool Stellenbosch se selfgeskrewe Val is as die naaswenner aangewys.

Merwe van Gent (18) van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp is derde met Ingeperk, wat deur Ilne Fourie geskryf is. Merwe se monoloog is in die kykerskeusekompetisie as die gunsteling aangewys.

Deelnemers is vanjaar meer as ooit uitgedaag om die liefde vir toneel te bevorder deur slegs nuutgeskrewe monoloë binne ’n voorgeskrewe tema-wolk (huis, isolasie, ingeperk, staties, alleen) in te skryf.

Hierdie nuutskeppings moes dan voor ’n kamera lewe kry en sewe mentors (Amalia Uys, Jacques Bessenger, Waldemar Schultz, Ira Blanckenberg, Wilhelm van der Walt, dr. André Gerber en Henrietta Gryffenberg) beïndruk.

Nichola, wat aanstaande jaar drama aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, sê sy was aan die begin van die jaar reg om aan ATKV-Tienertoneel deel te neem toe Covid-19 die wêreld tref.

“Ek moes ’n monoloog [vir die aangepaste ATKV-Tienertoneelkompetisie] skryf en het algehele paniek ervaar. My eindproduk is maar eintlik ’n bewys van alles waardeur ek is. Bonuspunt is gewis ’n rebellie teen die aannames wat oor drama heers en teen mense wat amper neersien op drama.”

Nichola droom daarvan om eendag ’n goeie Afrikaanse riller te skep.

Die bekende aktrise Amalia Uys, wat ook een van die beoordelaars was, beskryf Bonuspunt as ’n baie intelligente teks.

“Nichola is ’n baie natuurlike aktrise wat ’n heerlike aanvoeling vir komedie het. Ek het die stuk baie geniet.”

Die beste nuutgeskrewe tekste in 2019 is ook by die prysuitdeling aangewys.

In die derde plek was Johann Spies met Met Engel gesout. Hierdie produksie is in 2019 deur die Hoërskool Swartland in Malmesbury by die Durbanville-streekfees opgevoer.

Die naaswenner vir die beste nuutgeskrewe teks is Jo-Aithne Stemmet met haar teks Karnaval, wat in 2019 deur Selborne College van Oos-Londen by die Port Elizabeth-streeksfees opgevoer is.

Pierre André Vivier het met die prys vir die beste nuutgeskrewe teks van 2019 weggestap vir Forte’ F: Har(t)d. Dit is deur Helpmekaar Kollege opgevoer. Forte’ F: Har(t)d is ook in die eindronde van die 2019-ATKV-Tienertoneeleindronde in die Adam Small-teater in Stellenbosch opgevoer.

Volgens Pierre André was die nuus dat hy dié prys gewen het, heerlik – veral in ’n jaar waarin almal so na die teater verlang het.

“Die skryfdeel is maar die moeilikste proses van teatermaak. Dit is so alleen en uitmergelend. Wanneer ’n mens hierdie soort erkenning kry, gee dit jou weer die moed om agter die rekenaar te gaan sit.”

Beoordelaars het dié teks as ’n “pragtige stuk werk gevul met empatie, eerlikheid, gevoel en ’n aanwins vir die letterkunde” beskryf.

Die ATKV het vanjaar die ATKV-Tienertoneel- digitale monoloogbundel die eerste keer bekend gestel. Die bundel bestaan uit die 48 toptekste (wat ’n goue [80-89%] of cum laude- [90-100%] prys) by vanjaar se kompetisie ontvang het.

Volgens JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, het die skryf van nuwe tekste as voorvereiste nuwe stemme, wat nie geïgnoreer kan word nie, na die voorgrond gebring.

“Dit gaan nou stories in die volksmond word wat vlerke kry en die eiendom van ander ook word.”

Die bundel is gratis op die ATKV se webwerf beskikbaar.. As jy nog nie die geleentheid gehad het om na Nichola, Jeanne-Marie en Merwe se monoloë te kyk nie, kan jy nou die kans benut:

Nichola Viviers – https://youtu.be/QpwMEI50S38

Jeanne-Marie Koekemoer – https://youtu.be/8bpc75oqk6I

Merwe van Gent – https://youtu.be/9WMvi2yzMo4

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.