Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Raak smoorverlief op plante, sê nuwe kurator
Dr Donovan Kirkwood

Dr. Donovan Kirkwood het op 1 Oktober in sy nuwe pos as kurator van die internasionaal geakkrediteerde Universiteit Stellenbosch (US) Botaniese Tuin ingeval.

“Ek’s baie opgewonde oor die aanstelling. Ek werk al geruime tyd in die biodiversiteits­bewaringsektor, maar ek geniet dit ook om sommer net vir die lekker plante te kweek. Hierdie werk is ’n fantastiese kombinasie van twee van my grootste passies,” sê Kirkwood.

Kirkwood is ’n hoogs ervare plantkundige en spog boonop met ’n sterk akademiese profiel.

Hy is ’n opgeleide ekoloog op die gebied van Kaapse, savanne- en woud-ekosisteme, steekproefneming en eksperimentele ontwerp, sowel as statistiese ontleding en verslagdoening.

Hy het sy PhD in 2003 aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en sy navorsing konsentreer op bevolkingsekologie en die beskrywing van plantegroei, waaronder formele floristiese opnames en ontleding.

As kurator sal Kirkwood onder meer verantwoordelik wees vir die administratiewe en bedryfsbestuur van die tuin om te sorg dat dit vlot funksioneer, behoorlik in stand gehou word en ’n lus vir die oog bly.

Daarbenewens is die botaniese tuin verbind tot bewaringswerk as ’n vennoot van Botanic Gardens Conservation International (BGCI), en Kirkwood sal dus ook pogings in dié verband help ondersteun en uitbrei.

Hierdie werk is ’n fantastiese kombinasie van twee van my grootste passies

Dit behels ’n wye verskeidenheid aktiwiteite – van opvoedings- en uitreikaksies tot die kweek van bedreigde plante en die ondersteuning van populasie- of habitatrehabilitasie.

Afgesien van sy beroepservaring en uitgebreide akademiese kennis op plantkundige gebied, het Kirkwood ook etlike jare as fotojoernalis gewerk en tydskrifartikels geskryf om mense oor meer volhoubare tuinboupraktyke te help opvoed.

Hy glo hierdie vaardighede en ervaring sal hom goed te staan kom om ’n nuwe hoofstuk vir die US se botaniese tuin te begin.

“Ek wil gewis die nalatenskap van bewaringsprojekte en -vennootskappe voortsit, maar ek wil dit ook vir mense opwindend, visueel aanloklik en opbouend maak om oor die geweldige plantkundige diversiteit van Suid-Afrika, en veral van die Wes-Kaap, te leer,” sê Kirkwood.

“Ek wil spesifiek moeite doen om die publiek aan al ons pragtige, tog bedreigde plante, bekend te stel, dit binne die konteks van bedreigde habitatte en landskappe te plaas, en raad te gee oor wat ons kan doen om ons erfenis op te pas.

“Bowenal wil ek net graag hê mense moet smoorverlief raak op plante en die natuur.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.