Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ruil 4 wiele eerder vir 2

Fietsverkope het die hoogte in geskiet en fietsry het in baie stede reg oor die wêreld so in die Covid-19-pandemie toegeneem dat tydelike fietsbane aangelê moes word – van Bogóta tot Kampala en van Parys tot Sydney.

In Suid-Afrika – en Stellenbosch – is fietswinkels ook besig om vinnig leeg te loop.

Fietsfabrieke in China en Taiwan, wat moes sluit, kan nou nie voorbly nie.

Plaaslike fietswinkels het bevestig dat hul voorraad baie min is, dus sal mense wat daaraan gedink het om ’n nuwe fiets te koop, gou moet spring – nuwe voorraad word eers oor sowat drie maande verwag.

Die kettingwinkel Walmart se fietsrakke in die Verenigde State staan leeg. Fietswinkels word oorval deur mense wat hul ou fietse bring om versien te word. In Parys kan jy weke wag om jou fiets te laat herstel.

Fietsry in baie lande het letterlik ontplof. In Berlyn ry 25% meer mense nou fiets. In België neem 80% meer mense van die begin van Julie af hul fietse saam op die treine en 9% Londenaars het fietse tydens die inperking gekoop.

Waarom het dit gebeur? Mense wou, uit vrees vir die koronavirus, nie meer die volgepakte treine, busse en trems gebruik nie en het hul fietse uitgehaal of nuwes gekoop om so gemaklike, veilige afstande te handhaaf. Baie mense het tuis begin werk en fietsry was die aangewese manier om oefening te kry, veral omdat gimnasiums gesluit was. Baie gesinne het weer saam begin fiets ry.

Dit kon ’n mens in Stellenbosch ook sien, veral in die oefening-venster soggens.

Fietsryers in stede soos New York, Milaan en Londen hoop die tydelike fietsbane of die verbreding van fietsbane gaan so bly, want hulle wil nie terugkeer na hul ou besoedelde stede nie.

Aflewering met vragfietse het ook toegeneem.

Ann Hidalgo is in hierdie tyd met ’n volstrekte meerderheid herkies as burgemeester van Parys en gaan vreesloos voort om paaie vir motors te sluit en sowat 70% van die middestad se straatparkering vir motors in fietsbane om te skep. “Parys moet asem haal,” is haar slagspreuk.

Die grootste deel van Stellenbosch is plat en ideaal vir fietsry, en hoe meer mense dit doen, hoe minder motors sal in die middedorp wees. Dit beteken die dorp word veiliger vir fietsryers en straatparkering kan vir ander meer sosiale gebruike beskikbaar gestel word.

Waarom kan die parkeerplekke voor elke restaurant, eetplek of kuierplek nie verander word in ruimtes vir tafels en stoele nie?

So word aan die afstandvoorskrifte voldoen en die sypaadjies kan weer oop wees vir voetgangers. Motorvoertuie kan in strate soos Kerk-, Andringa- en Reyneveldstraat tot 20 km/h beperk word en fietsryers kan toegelaat word om in albei rigtings te ry. En siedaar, ’n dorp met geselsstrate en hopelik met genoeg fietsparkering . . . maar gewis veiliger vir voetgangers en fietsryers. Inwoners sal nooit weer wil teruggaan na strate vol motors nie.

Maar, hoor ek die refrein: Ek is bang my fiets word gesteel? Daarvoor is daar beslis raad:

1. Moenie met jou duur berg-/padfiets dorp toe ry nie, of parkeer hom langs jou koffietafel.

2. Kry vir jou ’n ouerige, gemaklike dorpfiets wat nie so begeerlik lyk nie.

3. Gebruik niks anders as ’n hoepelslot van soliede staal nie en sluit jou fiets se raam aan ’n paal, fietsparkeringshoepel of ’n vriend se fiets vas.

4. Die munisipaliteit kan fietstoesluithokke op sentrale plekke bou – volgens die goedgekeurde fietsplan.

Daar is goeie nuus vir fietsryers op Stellenbosch: Bekwame en ervare konsultante wat self hier en oorsee fiets ry, werk tans aan die verbetering van Stellenbosch se fietsplan van 2015. As die stadsraad hierdie plan begin deurvoer, sal dit fietsry baie aangenamer en veiliger in die munisipale gebied maak.

Die pad is oop vir Stellenbosch om die leidende fietsry-omgewing in die land te word. Ons soek net besluitnemers, politici en amptenare soos Ann Hidalgo met die durf om dit te doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.