Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Ryk skool bevoordeel’

Dat die ACDP wil hê ’n gedeelte van grond wat tans deur Rhenish Girls’ High gebruik word, moet so benut word dat die hele gemeenskap daarby kan baat vind, moet nie as ’n grondgrypery beskou word nie.

Só sê raadslid Gaynore Cele, uitvoerende hoof van die ACDP in die Wes-Kaap.

“Die ACDP maak geen aanspraak op hierdie grond nie. Die Wes-Kaapse regering het die Stellenbosch-munisipaliteit versoek om die grond gratis aan die provinsiale regering oor te dra,” verduidelik sy.

Soos in die provinsiale regering se skriftelike versoek aan Stellenbosch-munisipaliteit aangedui word, sal dié stuk grond dan gratis aan Rhenish gegee word.

Die skool beplan om die stuk grond van sowat 9 000 m² te gebruik om twee swembaddens op te bou – iets waarby die breër gemeenskap van Stellenbosch luidens die skriftelike aansoek sal baat vind.

Die ACDP in Stellenbosch meen die rykes gaan steeds voordeel trek terwyl die armes al hoe armer word. Volgens die party is dit ook nie duidelik hoe die gemeenskap van Stellen­bosch gaan baat vind by die bou van swembaddens by die skool nie.

“Sluit die breër gemeenskap openbare skole in voormalige minderbevoorregte gemeenskappe in wat nie swembaddens het nie en die kinders nie toegang tot swemlesse het nie?”

Die ACDP versoek sekere voorwaardes moet aan die oordrag van die grond gekoppel word, onder meer dat leerders van arm gemeenskappe gratis toegang tot die swembaddens asook swemlesse moet hê.

Cele sê grond wat gratis aan skole in “bevoorregte” gebiede gegee word, noodsaak dié skole om op ’n betekenis­volle manier aan gemeenskappe wat nie dieselfde geleenthede as hulle het nie, terug te gee.

Sy het ook op ’n onlangse raadsvergadering gesê hierdie gratis oordrag van grond skep ’n presedent en mense moet onthou dat skole in armer gemeenskappe ook grond sonder koste moet kry.

Helmien Slabber, hoof van Rhenish Girls’ High, meen die oordrag van die grond, wat al dekades lank deel van Rhenish se bestaande kampus vorm en deur die skool in stand gehou word, sal Rhenish in staat stel om in infrastruktuur te belê wat die skool asook die breër gemeenskap sal bevoordeel.

“Rhenish Girls’ High is trots daarop dat ons ’n skool is wat vir die gemeen­skap omgee en al jare lank gereeld ons geriewe aan minderbevoorregte skole beskikbaar stel.

“Die oordrag van die grond en die ontwikkeling van infrastruktuur op die grond sal ons in staat stel om voort te bou en nouer met die gemeenskap saam te werk.”

Slabber sê die skool verwelkom enige kommentaar wat by die huidige openbare deelnameproses oor die oorhandiging ontvang word.
V Lees d
ie stellenbosch-munisipaliteit se kommentaar op bl. 2.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.