Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘SA moet hom aan kinders wy’

’n Verslag wat in Februarie verlede jaar deur Statistieke Suid-Afrika bekend gestel is, beklemtoon hoe belangrik die belegging in vroeëkinderontwikkeling vir die toekoms van die land is.

Ongelukkig is die werklikheid ’n perd van ’n ander kleur.

Die fisieke, kognitiewe, taalkundige en sosio-emosionele ontwikkeling van baie Suid-Afrikaanse kinders word belemmer deur die regering se versuim om die verskeie beleide oor vroeëkin­der­ontwikkeling te implementeer.

Dit is die siening van dr. Eric Atmore, adjunk-medeprofessor in sosiale ontwikkeling aan die Universiteit van Kaapstad en die direkteur en stigter van die Sentrum vir Vroeëkinderont­wikkeling in Claremont, Kaapstad.

Hy het Vrydag 5 April 2019 sy doktorsgraad in opvoedingsbeleidstudie by die sesde seremonie van die Universiteit Stellenbosch se April-gradeplegtigheid ontvang.

As deel van sy doktorale tesis onder toesig van prof. Nuraan Davids van die US se departement opvoedingsbeleidstudie, het Atmore al 27 beleide en beleidsverwante dokumente oor vroeëkinderontwikkeling wat sedert 1990 die lig in Suid-Afrika gesien het, opgespoor, gelees en ontleed. Daarna het hy onderhoude met 19 sleutelfigure wat tussen 1990 en 2015 by die beleidsvorming oor vroeëkinderontwikkeling betrokke was, gevoer.

Hy het ook sy eie stem bygevoeg om sy boodskap oor te dra.

Atmore wys daarop dat sy studie die eerste van sy soort in Suid-Afrika en, sover hy in al die literatuur kon vasstel, ook die eerste ter wêreld is wat na die verloop van beleidsvorming oor vroeëkinderontwikkeling oor só ’n lang tydperk kyk.

Die 63-jarige Atmore is reeds sedert 1979 by vroeëkinderontwikkeling betrokke en is baie passievol daaroor. Hy sê hy het die studie gedoen omdat daar sedert 1990 reeds 27 beleide en beleidsverwante dokumente oor vroeëkinderontwikkeling vir Suid-Afrika was, maar daar was minimale implementering van die beleide en programme vir vroeëkinderontwikkeling.

“Ek het ook hierdie navorsing gedoen omdat ek redelik aktief betrokke was by beleidsvorming oor vroeëkinderontwikkeling tussen 1990 en 2012 en daar is ’n storie om te vertel oor hoe vroeëkinderontwikkeling in die ná-apartheidstydperk in Suid-Afrika ontvou het.”

Hy sê hoewel goeie geleenthede vir hoëgehalte-ervarings vir vroeëkinderontwikkeling noodsaaklik is vir jonger kinders se groei en ontwikkeling, Suid-Afrika as ’n land nie veel van die proses van beleidsvorming vir vroeëkinderontwikkeling verstaan nie en daar is swak plekke in die implementering van beleide ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling.

“My motivering om by vroeëkinderontwikkeling betrokke te wees, is die wete dat jonger kinders ’n fundamentele reg op goeie gehalte vroeë-onderrig en -ontwikkeling het – wat gesondheidsorg en voeding insluit, maar daar is baie, sowat 70% van Suid-Afrika se kinders, wie se reg nie geëer word nie,” voeg Atmore, wat self drie kleinkinders het, by.

Hy sê sy navorsing het getoon dat daar sedert 1994 ’n merkbare gebrek aan politieke wilskrag by die regering was om vroeëkinderontwikkeling in Suid-Afrika te ondersteun.

“Terwyl die beleidsdokumente die belangrikheid van die verskaffing van dienste vir vroeëkinderontwikkeling beklemtoon, is dit minimaal geïmplementeer.

“Die Nasionale Tesourie het ook nie genoegsame finansiering verskaf om hierdie beleide te implementeer nie en ons regeringsamptenare op nasionale en provinsiale vlak het nie die vermoë om vroeëkinderontwikkelingsprogramme op die been te bring soos dit in die verskillende beleidsdokumente uiteengesit word nie.

“Die regering het nie naastenby genoeg vir ons jonger kinders en vir vroeëkinderontwikkeling gedoen nie. Die regering se verbintenis tot die Verenigde Nasies se konvensie oor die regte van die kind en ander internasionale konvensies is swak,” voeg Atmore by.

Hy sê sy navorsing bevat talle lesse oor die implementering van beleide oor vroeëkinderontwikkeling en oor die pad vorentoe om in die behoeftes van jonger kinders in Suid-Afrika en in die res van die wêreld te voorsien.

“My navorsing toon ook dat groter aktivisme van verskaffers van vroeëkinderontwikkelingsdienste nodig is.

“Daar is sowat 30 000 vroeëkinderontwikkelingsentrums met sowat 90 000 mense, oorwegend vroue, wat elke dag onderrig, ontwikkeling en sorg aan ons jongste kinders bied.

“Dit word al lank deur sektore sonder winsbejag en gemeenskapsektore verskaf.

“Die aktivisme moet tot politieke wilskrag en die regering se verbintenis tot ons jongste kinders in Suid-Afrika lei.”

Volgens Atmore is die uitgebreide netwerk van diensverskaffers vir vroeëkinderontwikkeling in die gemeenskap een van die sterk punte van hierdie sektor in Suid-Afrika.

Oor hoekom daar ’n gebrek aan navorsing oor vroeëkinderontwik­kelingsbeleide in Suid-Afrika is, sê Atmore dit is moeilik om beleid na te vors.

Hy voeg by dat die meerderheid navorsing oor vroeëkinderontwikkeling oor programme en die implementering daarvan handel, terwyl slegs ’n paar navorsers op beleidstudies vir vroeëkinderontwikkeling fokus.

Hy sê een van die hoogtepunte sedert hy die Sentrum vir Vroeëkinderont­wikkeling op die been gebring het, is om te sien hoe vroue uit verskeie gemeenskappe reg oor Suid-Afrika vroeëkinderontwikkelingsdienste aan jonger kinders verskaf.

“Hoewel dit nie altyd die beste gehalte is nie, inspireer dit ’n mens om te sien wat Suid-Afrikaners kan doen as hulle regtig vasbeslote is en die visie het om ons jongste kinders te onderrig en na hulle om te sien.”

Atmore sê regeringsbeamptes en aktiviste in die sektor vir vroeëkinderontwikkeling, sowel as mense wat by onderrig en maatskaplike ontwikkeling in Suid-Afrika en reg oor die wêreld betrokke is, sal baat vind by sy navorsing.

Hy het ook reeds die eerste ruwe manuskrip vir ’n boek wat op sy tesis gegrond is, voltooi en beplan om die boodskap daarvan op konferensies in Suid-Afrika en oorsee te versprei.

V Dr. Alec Basson is ’n senior wetenskapskrywer aan die US.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.