Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sauvignon Blanc het nuwe idees
Die beoordelaar van Sauvignon Blanc Suid-Afrika se top-10-kompetisie, Rudger van Wyk, wynma­ker van Stark-Condé Wines, by die beoordeling.

Sauvignon Blanc Suid-Afrika het vernuwing in wynbeoordeling vanjaar ’n stappie verder geneem deur pasgemaakte tegnologie in te span.

Beoordelaars kon deur die gebruik van tablette die beoordelingsproses van die 2020 Sauvignon Blanc-kampioen Covid-19-vriendelik, maar ook vinniger en meer akkuraat afhandel. Boonop kon meer bruikbare kultivarinligting terselfdertyd vir toekomstige navorsing ingesamel word.

“Die Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie is die enigste kompetisie in Suid-Afrika waar beoordelaars se tellings ten volle op tablette vasgevang is,” sê dr. Winifred Bowman, Kaapse wynmeester en paneelsameroeper. “Wat dit ook onderskei, is die insameling van bykomende data van wynprofiele wat tydens Sauvignon Blanc SA se tegniese seminaar met lede gedeel sal word.”

’n Kanadese sagtewareprogram vir sensoriese evaluering is spesifiek vir Sauvignon Blanc SA se behoeftes aangepas. Bowman het met dr. Carien Coetzee van Basic Wine en Sauvignon Blanc SA, en dr. Jeanne Brand, ’n kenner in sensoriese studies van die departement wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch, saamgewerk om die program verder te verfyn ná ’n proeflopie by verlede jaar se beoordeling. Die ontwikkeling is moontlik gemaak deur finansiering van Winetech.

Volgens Bowman was daar vanjaar weer ongekende ondersteuning vir die kompetisie. Altesaam 149 wyne van 96 produsente het om die gesogte titel meegeding. Beoordeling het van Dinsdag 1 tot Donderdag 3 September by Uitkyk-wynlandgoed in Stellenbosch plaasgevind, wat ’n omvattende Covid-19-protokol ingesluit het.

Saam met Bowman op die paneel, was keldermeester Charles Hopkins van De Grendel, wynbeoordelaar en -skrywer Fiona McDonald en wynmaker Rudger van Wyk van Stark-Condé-wyne. Die paneel het vanjaar ook weer aspirantbeoordelaars, naamlik Candice Barnes van Boekenhoutskloof, Kelsey Shungking van De Grendel en Victoria Davis van Glenelly, ingesluit.

Die beoordelaarspaneel was dit eens oor die voordele van die gebruik van tablette en die uitsonderlike gehalte van veral wyne van die 2019-oesjaar en gehoute inskrywings hoog aangeskryf.

Die kompetisie se top-20-finaliste word later vandeesmaand aangekondig, terwyl die top-10-wenners tydens nog ’n nuwigheid vanjaar bekend gemaak word – die virtuele Sauvignon Blanc SA Top-10-toekenningsgeleentheid Woensdag 14 Oktober.

Sauvignon Blanc SA se voorsitter, R.J. Botha, rig namens die organisasie ’n uitnodiging aan almal oor die wêreld heen om vanjaar se prestige toekenningsgeleentheid by te woon. “Ons nooi alle liefhebbers van sauvignon blanc om aanlyn op ons webwerf by www.sauvignonblanc.com by ons aan te sluit vir ’n feesviering, terwyl ons die beste sauvignon blanc-wyne in die land bekend maak,” sê Botha

Dit is vanjaar die negende agtereenvolgende jaar wat die Sauvignon Blanc SA Top-10-kompetisie gehou word met die ondersteuning van FNB.

’n Tegniese seminaar wat inligting rakende die top-10 deurgee, word Woensdag 18 November in Franschhoek gehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.