Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
SBA wen ATM se prestige-prys
ATM
Prof. Elvis Saal, prof. Stuart van Wyk, me. Gaireyah Frdericks, prof. Michael le Cordeur en mnr. Michael Jonas, direkteur van ATM.

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) kondig met trots aan Gaireyah Fredericks en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) is die 2020-wenners van Neville Alexander-prestige-eerbewyse vir die bevordering van Afrikaans.

Prof. Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch is vereer vir sy lewenslange en uitnemende diens aan die Afrikaanse taalgemeenskap. Alexander (1936 - 2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoed­kundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het.

Die pryse, ter waarde van altesaam R60 000 en wat deur Naspers geborg word, is Saterdag 10 Oktober op ’n glansgeleentheid in die Historium-konferensiesentrum in die Paarl deur prof. Elvis Saal, die voorsitter van die ATM-raad, oorhandig. Hy het ook die gedenklesing “Om Afrikaans te herskep” gelewer waarin die klem op die herskep van Afrikaanse ruimtes en dat Standaardafrikaans veelkantiger en die standaard verder geafrikaniseer moet word, geval het.

Dit is opgevolg met ’n bespreking “Vele Tongvalle, Een Taal – veeltaligheid in Afrikaans” met Michael Jonas, die ATM-direkteur, die gesprekleier en die jong paneellede Giselle Botha, Monn-lee Geduld en William Sezoe, waarna die 60 gaste vrae aan die deelnemers kon stel.

Onder die inisiatiewe van Fredericks, ’n aktrise en skrywer, tel die Moedertong-werksessies vir skeppende skryfwerk, haar formele mentorskap-program, haar bevordering van die taal onder Moslem-sprekers van Afrikaans, asook haar pogings om jong skrywers aan literêre feeste bloot te stel. Fredericks het deur haar werk in Afrikaans ’n rolmodel vir baie geword en sy dra tot die viering van die taal se skoonheid en nalatenskap by.

Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig. Hierdie organisasie het die afgelope jare met ’n fokus op onder meer veeltaligheid, ’n praktiese werksoek-sakgids in Afrikaans, Xhosa en Engels gepubliseer, bykomende Afrikaanse leermateriaal aan skoolleerders versprei, veeltalige kinderboeke uitgegee, ’n Mandeladag-jeugleiersforum aangebied en met sy suksesvolle storieprojek, Amagama-veeltaligheidsprojek en Afrikaans Sing!-koorgeleentheid, deurgedruk.

Le Cordeur het sy tyd en lewe reg deur sy hele loopbaan van 40 jaar daaraan gewy om Afrikaans vir almal toeganklik te maak en die taal as ’n medium te gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder. Dit was aanvanklik as Afrikaans-onderwyser, later dosent in Afrikaans en opvoeder van toekomstige Afrikaans-onderwysers, asook sy volgehoue betrokkenheid by die breë Afrikaanse landskap.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is hierdie eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans te gee en om taalprojekte te bevorder. “Vanjaar se keuses was selfs moeiliker as tevore, want ons het werklik uitstaande inskrywings gehad.

“Ons bedank almal wat benoem is vir hul onbaatsugtige werk om Afrikaans te bevorder; dit word nie misgekyk nie. Doe zo voort.”

Die wenners ontvang ’n sertifikaat en prysgeld ter waarde van R20 000 elk ten behoewe van relevante taalprojekte.

Ander vorige wenners sluit in Suzie Matlhola, Ernest Loth, die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.