Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
SBV: Dorp se bestuur het heelwat verbeter

Waaraan is 2018 vir jou gekenmerk – wat was die uitstaande tendense gesien uit die oog van die belasting­betaler? Ek dink dat Stellenbosse belastingbetalers hulself in 2018 in die oog van die ekonomiese en politieke storms wat internasionaal en nasionaal woed, met die verwagting bevind het dat ons nie vir lank ongeskonde gaan wees nie. Die Steinhoff-debakel en besettings van eiendom op ons dorpsgrense het ons vrese bevestig. Verstede­liking en hersonering van vrugbare landbougrond vir behuising en kommersiële ontwikkeling is ’n groot bekommernis, gegewe die belangrikheid van toerisme en landbou vir ons en die Kaapse ekonomie. Hoewel meer aandag aan openbare deelname geskenk word, is die wyse waarop dit gedoen word nog nie na wense nie. Die verskaffing van dienste aan grondbesetters in die ekologies sensitiewe Jonkershoek-natuurbewaringsgebied is angswekkend.

Wat was vir die belastingbetalers hoogtepunte in 2018? Stellenbosch se bestuur en administrasie het verbeter – verskeie verouderde beleide is, en word, hersien. Groter pogings word aangewend om die gemeenskap se insette in ontwikkeling en beplanning in ag te neem, en kommunikasie is aan ’t verbeter. Die verwydering van private heinings anderkant die meulstroom by Lover’s Lane kan as ’n hoogtepunt gesien word en bewys van die burgemeester se erns om dorpsake regverdig te hanteer, sonder aansiens des persoons.

En laagtepunte/grootste uitdagings? Die laagtepunt vir 2018 is sekerlik die besluite om die Capitec-hoofgebou in Technopark en die nuwe Mediclinic goed te keur, asook die vernietiging van buurte deur woonstelblokke vir studente. Die grootste uitdaging vorentoe is om die US se beplanning en ontwikkeling ondergeskik aan dorpsbeplanning en ontwikkeling te stel en dat gemeenskapsbelange bo dié van die provinsiale regering en die Kaapstad-munisipaliteit gestel word. Stellenbosch moet nie uit Kaapstad regeer word nie. Die sinergetiese integrasie van al Stellenbosch se beplanningsdokumente – veral die erfenisinventaris, omgewingsbestuursplan, geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP), ruimtelike ontwikkelingsraamwerk (SDF), geïntegreerde soneringskema (IZS) en paaiemeesterplan verdien ernstige, omvattende aandag.

Wat is jou wense vir die belastingbetalers vir 2019? Dat belastingbetalers se belange, soos deur substantiewe insette van gemeenskapsorganisasies oorgedra, in alle besluitneming van die stadsraad en amptenary gerespekteer word. Stellenbosch behoort aan sy inwoners wat getrou hul munisipale rekenings ten spyte van stygende kostes betaal. Veral ons ouer bevolking moet met meer deernis en respek behandel word. ’n Mens sou hoop dat die magdom kundigheid in Stellenbosch en omgewing deur die leierskap in Stellenbosch by gesprekke rakende gemeenskapsbelang en die toekoms op stelselmatige wyse betrek sal word – almal sal daarby baat. As die plaaslike regering nie die inisiatief neem nie, behoort die private sektor dit te doen.

2019 is verkiesingsjaar – hoe gaan dit die bestuur van die dorp beïnvloed? ’n Mens sou verwag dat ons dorpsbestuur in die aanloop tot die verkiesing sal poog om uitnemend te wees. Senior direkteure het egter bedank en nuwelinge wat nie die dorp of gemeenskap ken nie, moet aangestel word. Dit gaan uitdagings aan dorpsbestuur bied. Ontwrigting deur radikale elemente kan verwag word. Hopelik is gebeurlikheidsbeplanning oorgehaal om alle uitdagings bevredigend te hanteer. In die aanloop tot verkiesings word toesig van die politici oor amptenary ook dikwels verwaarloos, maar ons vertrou dat ons munisipale bestuurder hierdie leisels styf sal vashou

Het jy enige ander boodskappe vir die inwoners aan die einde van 2018? Die SBV versoek alle inwoners van Stellenbosch om asseblief betrokke te raak by dorp- en omgewingsake. Ons het ’n rykdom kennis en ervaring wat ingespan kan word om Stellenbosch en omgewing ’n toonaangewende dorp en gemeenskap in SA te maak. Alle inwoners sluit omliggende gemeenskappe in, soos Franschhoek, Klapmuts, Jamestown, Pniël, Kylemore en Johannesdal. Die plasing van inligting oor die aktiwiteite van die verskeie gemeenskapsorganisasies in Stellenbosch op een webwerf sal ’n groot voorwaartse stap wees.

Die SBV wens alle inwoners ’n geseënde Kersfees en voorspoedige 2019 toe. Reis veilig, geniet familie en vriende en waardeer ons pragtige omgewing.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.