Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Sê nee vir dwelms, veral dagga’

“Dagga is nie wettig in Suid-Afrika nie en beslis nie vir minderjariges nie.”

Dít is die kernboodskap wat Maandag by die bekendstelling van ’n anti-dwelm- en veral anti-daggaveldtog aan leerders van Hoërskool Cloetesville oorgedra is.

Dié veldtog is deur verskeie plaaslike belanghebbendes, onder andere die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) bygewoon.

Volgens Dorian Meyer, skoolhoof, het hulle besluit om die veldtog van stapel te stuur omdat die skool ’n probleem met daggagebruik op die skoolterrein gehad het. “Ons het die probleem hok­geslaan, maar die leerders is baie ver­ward oor die Grondwethof se uitspraak dat dagga wettig is. Hulle dink dit geld vir tieners ook en dink dis wettig om dit op die skoolterrein te rook.”

Koos Geyser van die regsfirma Cluver Markotter het die wet en wat dit beteken uiteengesit. “Ons kan nie oor die algemeen sê dagga is nou wettig nie, want dis nie die waarheid nie. Die uitspraak het gehandel oor die gebruik van dagga in die privaatheid van jou eie huis deur ’n volwassene. Daar is ’n paar vereistes. Die persoon moet 18 jaar of ouer wees en moet dit in privaat­heid gebruik, nie op die skoolterrein of ’n openbare plek of op straat nie.”

Volgens Geyser mag mense net dagga vir private gebruik besit. “As iemand betrap sou word met vier sakke dagga, val hy buite die uitsonderingsgeval wat beskerming teen vervolging sal gee. Dis belangrik om te onthou dat die uitson­dering op die wet nie so wyd is soos wat mense dit graag wou hê nie.”

Hy het ook bygevoeg dat die wetgewer 24 maande het om die wetgewing aan te pas. “Daar is verskeie leemtes in die wet, byvoorbeeld handel in dagga is nie wettig nie. As jy dagga koop by iemand op straat, is jy steeds besig om ’n misdaad te pleeg. As jy dagga kweek as jy ’n minderjarige is en dit gebruik, selfs in die privaatheid van jou huis, is jy steeds besig om ’n misdryf te pleeg.”

Kol. Eugene Sitzer van die polisie se regsafdeling het gesê die polisie sluit steeds mense toe vir die besit, gebruik en kweek van dagga. “Die besit van dagga in ’n persoon se privaatheid en vir eie gebruik kan toegelaat word. Tans word daar nie voorsiening gemaak in die wet vir hoeveel dagga besit en gekweek mag word nie. Minderjariges kan ook toegesluit word en word dan ingevolge die Kinderwet gehanteer.

“ ’n Grootmens kan nie dagga gebruik in die teenwoordigheid van ’n kind nie. Ingevolge die Strafproseswet kan ons ook ’n persoon sonder ’n lasbrief in hegtenis neem as ons vermoed hy besit dagga, vervoer of verskaf dit. Die besit en gebruik van dagga is dus steeds onwettig,” volgens Sitzer.

Die kliniese sielkundige Anton Böhmer het ook verduidelik watter impak dwelm- en daggagebruik op mense het. Volgens Böhmer beïnvloed dit nie net ’n mens se gedrag nie, maar ook jou breinontwikkeling, veral as jy nog ’n tiener is. “Die probleem met dagga is dit verander ons en sekere dele van die brein ontwikkel nie so goed soos wat dit moet ontwikkel nie. As jy ’n tiener is, ontwikkel sekere vermoëns geweldig vinnig. Die probleem is as ons dwelms gebruik, dan werk die deel van die brein wat inligting reguleer nie meer so lekker nie. Jy is nie meer seker wat om te maak met die inligting wat inkom nie. Jy konsentreer nie meer goed nie en dit beïnvloed jou geheue.

“Dit gaan nie net daaroor dat jy anders optree en sekere dinge doen wat jy nie moet doen nie, maar jy het ’n brein wat ook verander in die proses. Breinskanderings wys dat jou breinstruktuur met tyd verander as jy dwelms gebruik, selfs as dit dagga is. Jou brein lyk anders, nie net vir nou nie, maar ook op die lang termyn as jy dagga gebruik,” het Böhmer vertel.

Deon Myburgh, operasionele bestuurder van Mediclinic, het die leerders aangemoedig om liewer heeltemal weg te bly van dagga en dwelms. “Julle is die toekoms van hierdie gemeenskap in Cloetesville. Die impak op families is groot en dit is hartseer om dit te sien. In die mediese veld sien ons die invloed en impak wat dwelmmisbruik op ons jongmense het. Sê nee. Om ’n helder toekoms te hê, is ’n toekoms sonder dwelms.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.