Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Shany in poel van drome

Die vroulike vorm, foltering deur vuur en die verkwik­kende effek van water gee lewe aan elkeen van Shany van den Berg se kunswerke.

Shany het die laaste 30 jaar bekendheid verwerf as visuele kunstenaar met die fokus meestal op die menslike liggaam. Die misterieuse wasigheid van die menslikheid kry lewe onder haar verfkwas.

Haar beroemdheid is bekom deur jare se harde werk en met ’n ompad. Sy het eerder as om ná skool kuns te studeer, eers voedseltegnologie en later verpleging aangepak voordat sy met die kunste begin het.

Shany het in die dorpie Riversdal grootgeword. “Dit was ’n ander tyd. Ons kon fietsry en langs die hange van Sleeping Beauty gaan stap. Dit was ’n vry, plattelandse lewe. My ma het kreatiwiteit deur skeppend te wees aangemoedig deur my te laat teken en tuinmaak, deur die natuur en deur naaldwerk.”

Sy het aan die Hoërskool CJ Langehoven gematrikuleer en onthou die wonderlike uitsig uit die wiskunde- en skeinat­klaskamers. Deesdae hunker mense na dié lewe.

“Ek was vry om alleen dinge aan te pak en het ver fietsgery en berg geklim en onder die hange van die bekende bergspits van die Langeberge gespeel. Aangesien ek ’n laatlammetjie was, het ek ook baie tyd alleen saam met my ouers deurgebring, brug gespeel en opera by Kunstekaap gaan kyk en baie tyd gehad om te sit en teken en te skryf.”

Haar passie vir teken en verf het vlamgevat toe haar ouers haar aan die bekende Vera Volschenk bekendgestel het. “Ek was ses jaar oud en het die vrou in haar voorskoot vol verf en kwaste voor ’n esel gesien. Dit het my oë oopgemaak en daar het die kunste my vir seker geroep.”

In daardie dae was dit egter nie ’n opsie nie en Shany moes ’n keuse maak. “Ek wou nie net ’n BA-graad gaan doen nie en het besluit om voedseltegnologie te studeer, onder andere onder Ina Paarman, en toe in my ousus se skoene gevolg en ’n diploma in verpleging begin.”

Hoewel dié kursus glad nie vir iemand wat versigtig is vir bloed beskore is nie, het dit ’n uitstekende grondslag van die menslike anatomie en sielkunde gelê, wat nou in haar werk uitgebeeld word.

Ná drie jaar se studies het Shany nooit ’n verpleegster geword nie. Sy is getroud en dis hiér waar haar pad ernstig met die kunste begin het. Sy het twee jaar keramiek onder Ralph Johnson in die Paarl bestudeer en vir tien jaar was dit haar medium. Sy het in 1990 begin skilder – eers op keramiek as basis en toe deeltydse kursusse in teken en skilder aan die Ruth Prowse-kunsskool in Kaapstad geneem. “Ek het ’n ateljee by ons huis ingerig om my pad as professionele kunstenaar voort te sit.”

Shany het begin om aan groepuitstallings deel te neem, in 1997 ’n kunsreis na museums in Europa onderneem en in 1999 haar eerste solo-uitstalling by Bang the Galleryin Breëstraat geopen. Dis is hiér waar Everard Read haar werk raakgesien het.

“In retrospek sien ek hoe my unieke lewenspad in my kuns weerspieël word en hoe ek ontwikkel het as vroulike kunstenaar met my unieke visuele narratief.”

In 1998 is sy na Lauenburg in Duitsland genooi waar sy ’n kunsverblyfvergunning met 12 uiteenlopende kunstenaars meegemaak het. Sy het ook in 2007 ’n maand lange kunsreis na China onderneem as deel van ’n uitruilprogram van die Everard Read-galery waar sy aan die Wuhan-instituut van kunste deelgeneem en vele kunstenaars besoek het. Sy het in 2013 die Ampersand-stigting se erkenningsbeurs deur Jack Ginsberg, die stigter, ontvang en kon vir ’n maand in hul kunswoning in New York tuisgaan om museums te besoek.

Vanjaar het Shany haar 16de solo-uitstalling by Everard Read in Fullham Road, Londen. Dié uitstalling getiteld “Dreampond/Droompoel” bevat 40 werke, met water en waterlelies as die deurlopende tema. Dié uitstalling open 18 Oktober.

“My fokus was ’n nuwe tema van water en waterlelies, die filosofie en mitologie daarvan en die hergeboorte van die menslike wese. Dié lelies het my nog altyd gefassineer – veral in die laaste paar jaar wat ek die Universiteit Stellenbosch se botaniese tuin besoek en later in die waterlelie-poele saam met tuiniers gewerk het. Ek het as deel van die projek in afgeleë plekke gaan swem en onderwaterfoto’s van die waterlelies geneem en aangeteken. Ek kon die ‘verdrinkte’ lelies wat nooit tot volledige blom gekom het nie, pluk, dissekteer en ontleed – van die kern tot die lewensfase en groei van dié plante. Dit dien as metafoor vir die innerlike mens.

“Ek het ook gefokus op die onderliggende tema van die mitologie, nimfe en die watergees wat lewe gee en neem.”

Shany het ’n noue verbintenis met water as die element van haar geboorteteken, maar ook ná ’n traumatiese ervaring in haar lewe. Hul familiewoning, ’n historiese rietdakgewelhuis, is 26 jaar gelede in ’n brand vernietig.

“Vuur en water vorm deel van die boustene van die lewe, maar die brand by ons huis was ’n katarsis wat my en my hele familie se uitkyk op die lewe verander het.

“Dié uitstalling gee uiting aan die genesende effek van water, maar ook die vernietigende effek wat dit kan hê. Die mure van die huis kon nie die massa water hanteer nie en wat die vuur nie verwoes het nie, is deur die water deurdrenk.”

Haar kunswerke vloei van aardse kleure na die helder skakerings van die waterlelie en die vloei en tegniek van water. Die tema word weerspieël in die galery wat lei van een vlak na die volgende waar klein portretstudies van lelies tussen die ander verwante kunswerke klein fokuspunte vorm.

“Die projek was weereens ’n uitdaging om te groei in my praktyk en tegniek as kunstenaar. Aangesien die uitstalling op ’n ander kontinent gehou word, kon ek nie net sommer in die ruimte rondstap nie en ek moes van ’n grondplan af werk.

“Everard Read in Londen is op twee vlakke en werk mooi saam met my belewenis en visie . . . bo en onder die water.”

Tesame met die uitstalling in Londen word ’n beeld, “Die Kaaimans-watergees”, by CIRCA/Everard Read-galery in Kaapstad uitgestal.

“Die konsep is om die watergees in gesprek te plaas met die werke in Londen by my solo-uitstalling en dus ’n gesprek tussen twee kontinente.”

V Ná die opening Vrydag 18 Oktober reis Shany na Venisië (Italië) en Istanboel (Turkye) om die kunsbiënnale in dié twee lande te besoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.