Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skilder pot lastige kolgans

Daar is diegene wat na die plaaslike swerms kolganse kyk en hulle aan die natuur verwonder. Maar wat gemaak as ’n broeipaar jou skoorsteen gebruik as hul stoep vir ’n geselsie elke oggend?

’n Voorval in Noordwalwesstraat verlede week het plaaslike dierelief­hebbers op hul agterpote nadat die bekende Stellenbosse kunstenaar Portchie volgens sy eie beskrywing uiteindelik sy kalmte verloor en die kolgans-broeipaar op sy dak ’n les probeer leer het.

Volgens Portchie woon dié twee al vir jare in die omgewing en is hul gunste­ling­plek sy ses meter hoë skoorsteen.

“Dis te hoog. Ek kan nie net opklim en hulle wegklap nie. Ek het al probeer om hulle met ’n kettie of ’n klip te verjaag, maar hulle ignoreer dit net. En dis toe ek snap!”

Hy vertel hy het Donderdagoggend 26 September ’n vriend met ’n windbuks laat kom in die hoop dat hy hulle kon verjaag, maar een van die skote was té akkuraat en hulle het die een gans in die nek getref.

Die beseerde gans het tot onder in die buurman se tuin gevlieg waar die vroue langsaan verwoed moes toekyk hoe die voël vol bloed rondspartel.

Candiz Collisen, wat langsaan by dr. Niels Holm se spreekkamer werk, sê hulle is absoluut getraumatiseer.

Nie net moes hulle die bebloede dier in hul tuin aanskou nie, maar die “jagter” het nie ophou skiet toe hulle uitloop nie.

“Ons het kort nadat ons Donderdag by die werk gekom het, ’n geraas buite die deur gehoor. Dit was so 07:45 dié oggend. ’n Gans het in ons parkeerterrein geland en verwoed sy vlerke geklap. Die bloed was oral.

“Ek en my kollegas het uitgehardloop om ondersoek in te stel, maar toe hoor ons nog skote klap! Hy het seker nog drie afgevuur – en dit in ons rigting!”

Candiz het op die skieter gegil en na binne gehardloop. Van hier het sy die polisie ontbied, wat haar na die munisipale wetstoepassers verwys het. Die wetstoepassers het egter nooit opgedaag nie.

Portchie het klaarblyklik toe ingeloop op soek na die gans en dit in die rigting van die rivier aangejaag.

“Hy het toe aan my erken hy het die gans geskiet,” sê Candiz.

Sy het Animal Welfare Stellenbosch gebel en hulle het kort daarna opgedaag en die gans gevat en gehelp. Die gans is intussen na Spier Eagle Encounters geneem waar hy behandel is.

Volgens Hank Chalmers van Spier Eagle Encounters moes die gans van kant gemaak word omdat die koeëltjie deur sy skouergewrig getrek het.

“As dit in ’n been getref is, sou ons nog iets kon doen, maar hy sou nie meer kon vlieg nie. Die kolgans was ’n mannetjie en die wyfie sal nou ’n ander maat moet soek,” het hy gesê.

V Milton de la Harpe, ’n regsgeleerde en ’n strafregkenner, het gesê dieselfde wetgewing oor vuurwapens is nie op windbukse van toepassing nie, maar die afvuur van enige vuurwapen in ’n woongebied is onwettig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.