Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Só lyk die blommetoer-program
madeliefies
Madeliefies

Eikestadnuus en Namakwatoere se blomtoer na die Namakwaland volg ‘n opwindende program. Goeie reën die afgelope paar dae in die gebied hou die belofte van ’n goeie blomseisoen in. Hier is die opwindende program.

DAG 1: Ons vertrek van Butterfly World af via Malmesbury na die Weskus se drielingdorpies Velddrif, Port Owen en Laaiplek aan die mond van die Bergrivier, die bokkomhoofstad van SA.

Ons ry ook deur Dwarskersbos, verby Rocherspan en oor die Verlorenvlei voordat ons by Elandsbaai uitkom.

Hier word die kreefbakkies met hyskrane van die kaai tot in die baai laat sak.

Van hier af kies ons koers deur die Sandveld verby Leipoldtville en Graafwater via Clanwilliam na Vanrhynsdorp waar ons elke aand van die toer in die Namaqua Lodge oornag.

Ingesluit: Aandete

DAG 2: Vandag is ’n lang dag en een van die hoogtepunte op die toer!

Ons vertrek vroegoggend deur die Knersvlakte waar dit op die oog af lyk of daar niks is nie, maar wanneer ons stop en uitklim is almal verbaas om die verskeidenheid en hoeveelheid dwergvetplantjies te sien wat tussen die wit kwartsklippies groei – sommige plantjies lyk ook net soos die klippies! Ons ry deur die Hardeveld met dorpies soos Nuwerus en Bitterfontein.

Voordat ons Garies bereik, ry ons die Namakwalandse Klipkoppe binne wat strek tot noord van Springbok. Ons sal op hierdie roete ’n ou, verlate dorpie sien wat moes skuif en die kleinste titelakte in SA het.

Ons lê besoek af aan die ou koper-myndorpies rondom Springbok – Nababeep, Concordia en Okiep – wat op een tydstip die rykste kopermyn ter wêreld was.

Ingesluit: Ontbyt en aandete

DAG 3: Ons volg vandag ’n ander roete deur die Knersvlakte tot teen die Bokkeveldberge waar ons die skouspelagtige Vanrhynspas sal bestyg tot bo-op die Bokkeveldplato by Nieuwoudtville – die bolplanthoofstad van die wêreld!

Ons sal die dag naby hierdie pragtige dorpie deurbring en besienswaardighede soos die kokerboomwoud, die Nieuwoudtville-waterval en gletserspore besoek en ’n draai by die NG kerk, ’n pragtige sandsteengebou met ’n baie interessante geskiedenis, maak. Hulle glo dit is die enigste kerk in die wêreld wat ’n monument vir skuld opgerig het!

Ingesluit: Ontbyt en aandete

DAG 4: Die laaste dag van ons toer, maar steeds ’n kleurvolle dag propvol opwinding! Ons ry deur die Olifants­riviervallei tot by Clanwilliam waar ons die Pakhuisberge sal binnegaan. Hierdie rotsformasies laat ’n mens net weer besef hoe nietig ons is, en dit lyk asof die rotse bo-op mekaar gepak is.

Ons lê ook besoek af by C. Louis Leipoldt se graf in die berge. In Clanwilliam besoek ons die Ramskop-natuurtuin aan die oewer van die Clanwilliamdam.

Ons ry hierna verder deur die vallei met die Sederberge en Olifantsrivierberge aan weerskante van die pad tot waar ons die Piekenierskloofpas oorsteek. Die roete neem ons verder deur die Swartland met sy goudgeel kanola- en grasgroen koringlande. Ná ’n asemrowende dag word ons sielsverrykende toer in Kaapstad afgesluit.

Ingesluit: Ontbyt

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.