Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Soek jou eie lig in die blye Krismis-tyd

’n Kindjie is mos op 4 Mei 1953 op Die Vlakte in Van Ryneveldstraat gebore. Die herfswind sou geniepsig teen jou bruin bene piets en die woeligheid van menswees sou soos Vader Krismis gedurende die fees van lig op 25 Desember van enige jaar deur die strate loop.

Dit was egter nie nou die geval nie.

Lank, lank gelede oor Betlehemsvelde was daar ’n ander geboorte, maar daar was geen wind nie. Die nag was helder en stil met ’n ope ruim en ’n ster wat die heiligste plek in die wêreld sou aandui.

A child was about to be born on Die Vlakte, maar anders as hier, het die geboorte van Jesus reeds in die jaar nul in ’n stal plaasgevind. Dit maak dit nie minder belangrik nie. Trouens, dit was die belangrikste nog, toe die rewolusie van die geboorte van liefde in ons harte begin het.

Toe egter, in 1953, was daar geen herders, wyse manne, engele, koeie, kalwers of donkies in ’n stal nie. Wierook, goud en mirre het ontbreek.

Engeltjies, wat weer eens later op ’n Krismis-kaartjie in iemand se voorkamer sal verskyn, was daar ook nie. G’n teksversies, krismis-trees, gebraaide lamsboud, oopgevlekte hoender met ’n wensbeen, crackers en vars gemmerkoekies met suikerbier nie.

G’n blink opgebuttende stywe suits met pointer-skoene wat druk dat jou kleintoontjies seerkry of blompatroon­rokke en groot gebutterflaaide linte op meisiekoppe nie.

G’n bubbles en trein-sets met flitsende rooi ligte en machine guns wat kamma-vuur spuug en lucky dips for boys and girls wat by Ackermans of Gebroeders De Wet in die voordorp gekoop is nie.

G’n uncles en aunties met hope change om aan die kindertjies uit te deel waar hulle met sakke vol geld klingel-klingel in die straat van huis tot huis stap nie.

G’n krienkel paper-versiersels in die voorkamer, blink sterretjies en oopvou-glinsterpoppies aan die Krismis-boom saam met ronde en ovaalvormige Krismis-liggies, kapok aan die lewendige sierboom met decorations van sneeumannetjies, lig-engeltjies en windmakerige behangsels nie.

G’n bokdrolletjies, lallie mela, konfyt aan ’n stokkie en fancy ronde koekies met hundreds and thousands of silwer glimballetjies in geriffelde papiervormpies nie.

Mario Lanza, Pat Boone, Jim Reeves, Bing Crosby en Elvis Presley wat smart renditions van Krismis-songs kon doen, was stil.

Dit was net gewoonweg ’n dag toe ek my voorberei om uit my ma se geboortesakkie te kom.

Uiteindelik was daar roeringe.

My kop het verskyn. Eers uit, dan in, soos ’n babavoëltjie wat huiwer om by sy nes uit te kom.

Alles het toe vinniger gebeur, want ’n mind was opgemaak oor hierdie mooie bruinmansplek in Stellenbosch.

Ek was reg om te vlie . . .

Sedertdien, net soos lank gelede, het die engeltjies oor almal in hierdie dorp gewaak en geduldig gewag vir die geboorte van die liefde, as ons tweeduisend-en-negentien keer nou weer eens die kans gegun word om dit te laat geskied.

Mag dit so in hierdie blye tyd wees as Eskom nog so sukkel om sy ster te vind!

Hilton Biscombe,
Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.