Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stilsit nie ‘n opsie vir prof. Christo Viljoen

Om saam met iemand ’n reis deur hul verlede aan te pak, lewer altyd geliefde herinneringe en noemenswaardige hoogtepunte op.

’n Terugblik oor die lewe van prof. Christo Viljoen, voormalige dekaan van die fakulteit ingenieurswese en president van die konvokasie by die Universiteit Stellenbosch (US), is egter iets besonders – ’n leeftyd wat getuig van akademiese uitmuntendheid, ’n passie vir die universiteit en ’n diep verbintenis met Stellenbosch.

Hy is in 1937 in Graaff-Reinet gebore, het in 1954 aan die Hoër Volkskool matriek behaal en hom in 1955 as student by die US aangemeld. Dit was die begin van ’n verhouding wat ’n leeftyd sou duur.

Hy het sy doktorsgraad in elektroniese ingenieurswese voltooi en is daarna Engeland toe om verder te studeer. Juis in daardie tyd het hy sy vrou, Hana, ontmoet – iets wat hy allermins verwag het.

Hana, oorspronklik van Praag, se familie het in Australië gewoon toe hulle mekaar ontmoet het. Engels was sy tweede taal en haar derde.

“Nou praat sy beter Afrikaans as ek en 50 jaar later het ons nog steeds ’n goeie huwelik.”

Hulle het drie kinders, Marenka, Annakie en Francois, asook ’n string kleinkinders wat hul oupa en ouma se trots is.

Christo het egter vele ander pluimpies waarmee hy kan spog. Hy het baanbrekerswerk met die ontwerp van nuwe tegnologie gedoen, was betrokke by die vestiging van Stellenbosch se Tegnopark en help deesdae met die skryf van ruimte- en kuberwoordeboeke in Afrikaans.

Tydens sy ampstyd as viserektor: bedryf van die US was hy verantwoordelik vir die uitbreiding van onder meer die ingenieursgebou en die Neelsie-studentesentrum.

“Toe die projek by die ingenieursgebou vroeg afgehandel is, het ons gesit met ’n groep bouers wat besig gehou moes word. Dis toe dat ek besluit het om die Neelsie uit te brei.”

Dit was ’n uitbreiding wat gelei het tot die intrek van restaurante, banke en ’n poskantoor, asook die US se eie unieke posadres, Matieland, waarvoor Christo met die poskantoor moes onderhandel.

“Ek het spesiaal Pretoria toe gegaan om dié naam uit te klaar. Ons het ’n bietjie weerstand van die destydse fakulteit lettere- en wysbegeerte gekry,” onthou hy met ’n laggie.

In 1998 het hy afgetree, maar is kort daarna genader om die direkteur van die destydse kantoor vir intellektuele eiendom (deesdae Innovus) by die US te wees.

Dit is ’n projek wat hom na aan die hart lê omdat dit die doel van navorsing, om die welvaart van die gemeenskap te bevorder, op ’n praktiese manier bewerkstellig.

Afgesien van sy verbintenis met die universiteit, is hy ook besonder geheg aan Stellenbosch. Dit is ook glad nie verbasend nie, aangesien sy stamvader, Francois Villion, destyds een van die vryburgers was aan wie Simon van der Stel ’n lappie land in die deel wat nou Idasvallei is, gegee het.

“Dit is ongelooflik om te dink dat ek nou minder as twee kilometer woon van waar my familie se stamvader eens ’n sukkelbestaan gevoer het. Die oorspronklike huisie is vandag nog daar.”

Sy besondere belangstelling in sy stamboom en die Franse Hugenote het hom genoop om ’n uitgebreide stamregister saam te stel waarvan die tweede uitgawe binnekort gedruk gaan word.

“Daar is selfs mense wat oorsee woon wat die boeke bestel. Hulle bestel dit om ’n verbintenis met hul herkoms te behou.”

Oral in sy huis in Uniepark is daar aandenkings van sy oorsese reise – soos die pragtige kruike uit Sjina en klein koppies wat elk ’n ander land verteenwoordig en ’n hele uitstalkas vul.

Hy keer egter elke keer gretig terug na Stellenbosch en het geen planne om hom elders te gaan vestig nie.

“ ’n Nederlander het ’n tyd gelede vir my gesê Stellenbosch is mos daar waar die hemel aan die aarde raak. Is dit nie ’n wonderlike gedagte nie?”

Een van sy gunsteling-reise was ’n onverwagse verrassing. Nadat een van sy dogters hom vir skubalesse geneem het, is hulle Australië toe om die Groot Koraalrif te gaan verken.

“Skuba is eintlik mos ’n lui manier van duik, want jy dryf net onder die water rond. Die koraal was nie die indrukwekkendste deel nie, eerder die visse!”

Dinsdag 26 Januarie het hy sy uittreerede as president van die US-konvokasie gelewer by een van die grootste vergaderings van dié liggaam.

“Ek kan onthou daar het so ’n gevoel van verligting oor my neergedaal daarna. Die aand kon ek omtrent nie slaap nie, so het die gedagtes van alles wat gebeur het nog deur my kop gemaal.”

Hoewel dit duidelik is dat stilsit nie ’n opsie is nie en sy passie vir sy belangstellings geensins geblus is nie, erken hy self: “Dit is nou tyd om te rus.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.