’n Administratiewe fout het ’n Suid-Afrikaanse en wêreldswemkampioen die naweek van ’n gulde geleentheid beroof om vir ’n nommer by vanjaar se Olimpiese Spele te kwalifiseer.
Chad le Clos, ’n legendariese wêreldswemmer, het aan die grootliks onbekende swemgala in Stellenbosch deelgeneem om vir hierdie jaar se grootste swembyeenkoms te kwalifiseer.
Le Clos het spesiaal al die pad van Turkye na Stellenbosch gereis om aan hierdie spesifieke gala deel te neem.
Voor die gala het hy die nasionale organiseerders van die gala, Swem SA, versoek om die twee nommers waaraan hy moes deelneem, verder uit mekaar te skuif sodat hy genoeg hersteltyd sou hê om sy slag in die tweede item te kon wys. Tien minute is aan hom toegeken, maar beamptes het hierdie ooreenkoms geminag en Le Clos moes binne ’n korter tyd vir sy volgende item aantree – wat hy toe nie kon doen nie.
Dit is jammer dat die organiseerders nie die moeite gedoen het om hierdie wêreldklasbyeenkoms in Stellenbosch se puik Olimpiese standaard swembad aan die breë publiek, maar veral ook aan swemliefhebbers, bekend te stel nie. Geen melding is vooraf hiervan gemaak nie en om uitslae van die byeenkoms te probeer bekom, is ’n haas onbegonne taak.
Die karige nuusmededeling oor die gala maak meer melding van amptenare en beamptes, wat by die naam genoem word, wat die byeenkoms bygewoon het. Slegs twee swemmers se name word genoem en in die verbygaan word verwys na die Hongaarse swemspan wat ook aan die gala deelgeneem het.Is beamptes, wat waarskynlik op koste van Swem SA van heinde en ver na die geleentheid gebring is, dan belangriker as die deelnemers?
En hoe kan sulke administratiewe foute by ’n internasionale byeenkoms geduld word?
Of was dit net nog ’n rit op die swem-soustrein?