Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
SWR dryf talle nuwe inisiatiewe

Die jaarlikse oesparade van die Stellenbosch-wynroetes (SWR) is Saterdag luisterryk in die strate van Stellenbosch gehou om die begin van die 2019-oes te vier.

Jeanneret Momberg, ondervoorsitter van die Stellenbosch-wynroetes, het die optoggangers voor die stadsaal by vanjaar se sewende jaarlikse oesparade verwelkom.

“Ons het ver gevorder sedert die SWR in 1971 met agt lede deur wynpioniers van Simonsig, Delheim en Spier gestig is.

“Met ons huidige meer as 100 lede is ons nie net die oudste wynroete in die land nie, maar ook die grootste.

“Kenners verwag dat vanjaar se oes soortgelyk in grootte as dié van verlede jaar sal wees. Ten spyte daarvan dat die algehele oppervlakte onder wingerd in Stellenbosch afneem, is daar hernieude energie en optimisme in Stellenbosch se wyngemeenskap oor die toekoms van hierdie bedryf.

“Produsente staan saam om beskikbare hulpbronne, geleenthede, inligting en vennootskappe te benut om ’n volhoubare toekoms te verseker waarin ons werkers en gemeenskappe kan floreer,” het Momberg gesê.

Oor aktiwiteite van die SWR het Momberg gesê die klem sal vanjaar gelê word op opleiding en opvoedingsinisiatiewe en om met rolspelers in die bedryf saam te werk ten einde ondersteuningsprogramme by die plaasgemeenskap te vestig.

“Een so ’n inisiatief is die Stellenbosch-wynfeesstigting, wat in 2014 gestig is. Die stigting het reeds ’n taalwetenskaplike, ’n onderwyser en twee mediese dokters opgelewer.

“Vanjaar ondersteun ons vyf studente uit die Stellenbosse plaasgemeenskap.”

Sy het plaaskinders aangemoedig om oor hul toekoms te droom en daaraan herinner dat harde werk beloon sal word.

“Maar vandag gaan nie net oor die kinders nie. Vandag gaan eintlik oor elke Stellenbosse plaaswerker, of –soos ek hoor hulle deesdae sê – agriwerker: Julle wat die ruggraat van ons bedryf is; julle wat in sonskyn, wind en reën werk om seker te maak dat Stellenbosch die heel beste druiwe in die land kan oes; julle wat lang ure in die kelder werk om seker te maak Stellenbosch bring jaar ná jaar die meeste medaljes en trofeë huis toe.

“Dis vir julle dat die Wynroete vandag wil dankie sê.”

Momberg het die SWR-produsente en die Stellenbosch-munisipaliteit vir hul finansiële bydrae en WOW (Woorde open Wêrelde), die organisasie wat die geld bestuur en ondersteuningsdienste aan die studente gee, bedank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.