Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tindallstraat hou Kers-straatfees

Inwoners van Tindallstraat in Idasvallei was Saterdag 15 Desember behoorlik in rep en roer toe hulle hul jaarlikse straatfees ter voorbereiding vir Kersfees begin het.

Die straat is van die middag tot die aand afgebaken vir die inwoners se jaarlikse tradisie van sang, dans en samesyn rondom die braaivuur.

Die amptelike verrigtinge het omstreeks vyfuur begin met ’n Kersboodskap wat gedeel word, en daarna het die kinders die geleentheid gekry om hul talente in die vorm van sang- en dansitems uit te beeld.

“Die tradisie het by antie Frieda Fortuin begin wat ter wille van die inwoners ’n bietjie van ’n fellowship wou bring en ons kry om met mekaar te kuier,” sê Jacklyn Hendricks, die organiseerder van die 14de straatfees wat vanjaar plaasgevind het.

“Ons vier fees in die straat as ons mekaar raakloop. Dit is asof ons mekaar jare laas gesien het soos jy in die strate op en af beweeg. So kom ons ook uit by mekaar as ons na mekaar se liggies gaan kyk.”

Die liggies word gebruik om die inwoners se huise te versier en is omstreeks agtuur aangeskakel sodat almal gelyk mekaar se liggies die eerste keer sien.

“Dit gaan ook nie net oor die mooiheid daarvan nie. Die liggies word aangesteek ter nagedagtenis van familie en vriende wat afgesterf het,” vertel Fortuin.

“My ma het altyd liggies aangesteek. Toe sy sterf, het ek besluit om die tradisie verder te neem. Die mense in die straat het later voor ons huis kom staan om die liggies te aanskou. Dit het my laat besluit om ’n brief aan die inwoners te skryf sodat ons ’n straatfees kan hou.”

Fortuin het briewe aan die inwoners gestuur en hulle genooi vir ’n vergadering om die idee te bespreek, maar slegs agt mense het opgedaag.

Sy wou haar planne laat vaar, maar die handvol inwoners het haar nie toegelaat nie.

“Die aand skrik ek my morsdood,” sê Fortuin. “Toe die liggies aangaan het amper elke huis Kersliggies gehad sonder dat hulle by die vergaderings was. So het die tradisie aangehou.”

Ná vyf jaar het Fortuin besluit om ’n komitee te stig om die straatfees by haar oor te neem.

Elke jaar word geskenkpakkies aan seniors ouer as 60 sowel as laerskoolkinders in die straat uitgedeel.

’n Verskeidenheid geldinsamelingsprojekte word reg deur die jaar gehou om die onkostes van “Tindallstraat United” se geliefde straatfees te dek.

Die feesvieringe duur tot Oujaarsaand wanneer inwoners saam die nuwe jaar verwelkom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.