Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Toetssaak sal toekoms van Afrikaans by US bepaal

Groot belangstelling heers onder akademici en in onderwyskringe oor ’n toetssaak in die Konstitusionele Hof oor die omstrede kwessie van die reg op onderrig in Suid-Afrika se inheemse tale op tersiêre vlak. Hierdie saak word vandag in die Konstitusionele Hof in Johannesburg aangehoor.

Die beweging Gelyke Kanse en Matie-studente het appèl aangeteken teen ’n uitspraak van die Kaapse Hoërhof wat die nuwe taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch gehandhaaf het. Die Kaapse hof het die aansoek om hersiening van die US-taalbeleid met koste verwerp.

Volgens Philip Spies van Gelyke Kanse is die kostebevel sedertdien laat vaar, aangesien grondwetlike kwessies op die spel is. Die saak is ook vertraag deurdat die Konstitusionele Hof gelas het dat alle hofstukke, wat meer as 7 000 bladsye beloop, in Engels vertaal moet word.

’n Volle regbank van die Konstitusionele Hof sal na verwagting betoë van die onderskeie partye aanhoor.

“Die appellante voer aan dat die US in stryd met die Grondwet, wat onderrig in ’n amptelike taal van keuse tot op die hoogste vlak waarborg waar dit redelikerwys doenlik is, onder politieke druk geswig en Afrikaans begin afgradeer het. Gevolglik geniet Afrikaans ook nie meer by US die gelykheid van aansien wat ’n honderd jaar sedert die universiteit se stigting gegeld het en steeds as prakties haalbaar in ’n oorwegend Afrikaanse voedingsgebied beskou word nie,” sê Spies.

Volgens hom is die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre vlak prakties haalbaar gegewe die nuutste ontwikkelinge in afstandonderrig wat reeds wêreldwyd, en ook by die US, toegepas word.

“Die Konstitusionele Hof se uitspraak sal na verwagting rigtinggewend wees vir al 26 Suid-Afrikaanse universiteite, van wie die oorgrote meerderheid slegs Engelse onderrig aanbied. Drie voorheen Afrikaanse universiteite het reeds formeel begin verengels, terwyl slegs die US en Potchefstroom steeds in sommige departemente Afrikaanse lesings aanbied.

“Die uitspraak sal ook van belang wees vir skole wat tot gr. 4 in die inheemse tale klasgee, maar daarna gedwing word om na Engels oor te slaan.

“Gesaghebbende navorsing het getoon dat hierdie beleid besonder nadelige gevolge inhou – nie net vir sodanige leerders nie, maar ook vir ’n land se ontwikkeling,” sê Spies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.