Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Traumatiese gebeure kan katalisator vir groei wees

Die onlangse gebeurtenis van die span jong sokkerspelers wat uit die Tham Luang-grot in Thailand gered is, het die wêreld aangegryp.

Noudat alles verby is, was een van die vrae wat die emosionele gevolge van die voorval op die kinders sou wees.

Dr. Paul Auerbach het ná die Thailandse reddingspoging genoem positiewe psigologiese gevolge kan tesame met die traumatiese en negatiewe gevolge van die ervaring daaruit spruit.

“Dit is ’n stelling wat ons by Goeie Hoop Sielkundige Diens (GHSD) kan beaam. Ons sien dikwels dat kliënte saam met die verliese en negatiewe aspekte van traumatiese gebeure ook emosionele groei ervaar,” sê Marleen van Rooyen, direkteur: operasies van Goeie Hoop Sielkundige Diens in Stellenbosch.

“Die meeste mense strewe voortdurend daarna om gelukkig te wees. Maar emosionele welstand is nie noodwendig ’n eindpunt wat bereik moet word nie – dis ’n voordurende groeiproses.”

Navorsing toon dat negatiewe gebeure ’n katalisator van groei en verandering kan wees. Die donker prentjie het dus ’n ligkant.

“Hierdie positiewe kant wat navorsing vir ons uitwys, het hoofsaaklik betrekking op selfkonsep, sosiale verhoudinge en persoonlike groei.

“Wat selfkonsep betref, het traumatiese gebeure in baie gevalle ’n beter selfbeeld tot gevolg. Mense ervaar dikwels dat hulle ná die verwerking van die trauma sterker, wyser asook meer bevoeg en volwasse is. ’n Groter lewensperspektief en die vermoë om ander krisisse beter te hanteer is van die positiewe effekte wat deur Auerbach met die Thailandse reddingspoging uitgewys is.”

Dit het ook ’n invloed op die sosiale omgewing en sosiale verhoudinge. Wanneer ’n hoë mate van ondersteuning in traumatiese ervarings ondervind is, bring dit dikwels ’n groter bewustheid van mense se bereidwilligheid om te help mee.

Die Thailand-reddingspoging waarin groot dele van die wêreld saamgespan het om te help, is ’n goeie voorbeeld.

Wat sosiale verhoudinge met familie en vriende betref, het goeie ondersteuning dikwels sterker bande, groter waardering vir mekaar en ’n gevoel om te behoort tot gevolg.

“Traumatiese gebeure kan ’n katalisator vir persoonlike groei en heroorweging van lewensprioriteite meebring. Dit sluit positiewe aspekte in soos beter aanpassingsvermoë, groter begrip vir familie en vriende en herprioritisering van waardes en tydsbesteding.

“Dikwels kom verbeterde lewensgehalte ter sprake deur verhoogde aktiwiteitsvlakke en verbeterde langtermyn fisieke gesondheid, gesondheidsverwante gedragsveranderinge en leefwyse en bereiking van doelstellings wat andersins uitgestel sou word.”

Dit is baie belangrik om te onthou dat elke mens sy eie pad stap met die verwerking van trauma en moeilike lewensomstandighede en dat die impak daarvan nie gering geskat moet word nie.

“By GHSD streef ons daarna om ons kliënte te ondersteun om traumatiese gebeure te verwerk in ’n ruimte waar hulle veilig en gerespekteer voel.

“Die maklikste manier hoe mense gewoonlik die innerlike krag binne hulself verloor is deur te dink dat hulle dit nie het nie of deur hulself deur gebeure of situasies te laat definieer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.