Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Uit toeka: Rembrandt het in 30 jaar tot reus gegroei

Uit Eikestadnuus se uitgawe van Vrydag 8 September 1978.

Met die leuse van “Elke sigaret ’n meesterstuk” en gelei deur geloof in leierskap in navorsing en nywerheidsvennootskap het Rembrandt in die dertig jaar sedert hy sy eerste sigaret in Junie 1948 in die Paarl gemaak het, van ’n klein onderneming tot ’n wêreldwye groep gegroei, het dr. Anton Rupert verlede week op Stellenbosch in sy voorsittersrede by die jaarvergadering van Rembrandt Groep gesê.

Dr. Rupert het gesê dat dit tot die groep se krediet staan dat dit die wêreld se eerste nywerheidsbond van nasies is. Die groei in die afgelope dertig jaar was sodanig dat die groep nou die vierde grootste sigaretvervaardiger in die vrye wêreld is met altesaam 59 sigaret- en tabakfabrieke op al ses die vastelande.

Produkte van die groep word in meer as 180 lande verkoop en van alle sigarette wat vandag gerook word, word een uit elke sestien deur hierdie groep van maatskappye vervaardig. Vergeleke hiermee het die groep vyftien jaar gelede nog slegs een uit elke vyftig sigarette vir verbruik deur die vrye wêreld verskaf. ’n Mens vergeet gou hoe klein die begin in werklikheid was, het dr. Rupert gesê. Daarom is sekere statistiek insiggewend.

So het die totale bates van die groep van R1 miljoen in 1949 tot R1 000 miljoen in 1978 toegeneem. In hierdie tydperk het die belang van aandeelhouers in Rembrandt Groep Beperk van ongeveer R500 000 tot R500 miljoen toegeneem, terwyl die netto batewaarde per aandeel van 8c tot 925c gestyg het.

Die groep se verdienste het van 1949 tot 1978 van nul tot 149c per aandeel gestyg, terwyl ’n dividend van 22,5c per aandeel van 10c in die jongste boekjaar uitgekeer is. Hierteenoor was die dividend 1950-51 in die eerste jaar van dividendbetaling 6c per aandeel van 5c. Dr Rupert het gesê dit is interessant om daarop te let dat die gemiddelde prys van Suid-Afrikaanse blaartabak gestyg het van sowat 44c per kilogram in 1948 tot ’n beraamde 243c per kg in 1978.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.