Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Unieke mark smoor die Covid-19-blues
Talle mense het die afgelope twee Sondae die Dorp Street Sunday Market geniet. Die volgende mark vind komende Sondag plaas. Foto: Ruan Goosen
Vinyl DJ Paulie sorg vir hope vermaak by die mark. Foto: Ruan Goosen

Masserings, ’n haarsny of jy kan jou eie planthouers verf. Drink ’n bier, koffie of wyn, geniet varsgebakte brood, braaivleis of doen inkopies vir groente, klere, kunswerke en huishoudelike produkte én dans op die vrolike musiek van Vinyl DJ Paulie – alles in een van die mooiste strate in Stellenbosch.

Die Dorp Street Sunday Market is reeds vir die afgelope twee Sondae aan die gang en is ’n vennootskap tussen verskeie sakeondernemings in die straat, soos Adam & Eve Collab, Casa Cerveza, BMT Bike Shop, Malhuis, Gino’s en Drum- restaurant sowel as sowat 50 verskillende stalletjies wat by elke mark verwag kan word.

Volgens Danneel Stone, eienaar van Adam & Eve Collab en ’n stigter van dié mark, doen die ondernemings soos normaalweg sake tydens die mark terwyl die stalletjies aan albei kante van die straat in oop ruimtes opgesit word.

Stone sê hy het reeds sowat twee jaar gelede die idee vir die mark gehad. “Daar was nooit ’n regte geleentheid om dit te doen nie. Ek voel mense het baie moed tydens die Covid-19-pandemie verloor en ons wil geleenthede met dié mark skep. Dit was die geskikte tyd om dit te begin.”

Hy kon dit egter nie alleen doen nie. Die mark word moontlik gemaak danksy die sake-eienaars in die straat. “Op die ou einde moet dit ’n Stellenbosse en ’n gemeenskaps­projek wees,” vertel Stone wie se doel dit is om die hele straat vir die mark te gebruik. “Wanneer ons die hele straat gebruik, wil ek hê almal moet betrokke wees.”

Bouwerk beteken die mark moet soms ander ruimtes in die straat kry wat volgens Stone elke week se ervaring uniek en anders maak.

Plante is slegs een van talle produkte wat by die Dorp Street Sunday Market verkoop word. Foto: Elmarine Anthony
’n Verskeidenheid produkte sal by elke Dorp Street Sunday Market beskikbaar wees. Foto: Elmarine Anthony
Verskeie stalletjies by die Dorp Street Sunday Market bied dienste ook aan.

“Dis nooit dieselfde nie. Ons probeer die eentonigheid vermy, dan is dit anders wanneer mense elke week kom.”

Stone sê die doel van die mark is nie om ’n wins te maak nie, maar om mense te help en individuele verskaffers geleenthede te bied om geld te maak. Hy het reeds meer as 500 aansoeke van mense gekry wat ’n stalletjie by die mark wil hê, maar om in te skryf, beteken egter nie jou aansoek gaan suksesvol wees nie weens verskeie aansoeke om dieselfde soort produkte te verkoop.

“Ons soek produkte en dienste wat mense sal lok en wat uniek is. Daar is byvoorbeeld ’n plek waar jy jou maandelikse inkopies kan doen. Met daardie gedeelte wil ons die produsent direk aan die verbruiker blootstel en sodoende die middelman uitsny. Ons beplanning is baie fyn. Almal moet voordeel daaruit trek. Die verbruiker moet spaar en mense moet dit geniet.

“Vir nou soek ons ervare verskaffers met aantreklike stalletjies. Dit moet aantreklik en mooi wees. Dit moet pas by die mooi effek van Dorpstraat.”

Stone sê mense is ook welkom om op ander maniere betrokke te raak.

“As iemand kan dink aan ’n manier hoe hulle betrokke kan raak, enige soort hulp is welkom. Hoe meer mense betrokke raak, hoe beter. Daar is plek vir almal.”

Stone het reeds planne bewerkstellig om kwessies rakende parkering op te los en om die mark na ander dele van die straat uit te brei.

* Die volgende Dorp Street Sunday Market vind Sondag 18 Oktober van 09:00-14:00 plaas. Daarna sal besluit word of daar voortaan elke Sondag ’n mark sal wees. Parkering is onder meer by die Speelgoedmuseum in Markstraat beskikbaar.

* Vir nog inligting, volg Dorp Street Sunday Market op Facebook of Instagram.

* Om aansoek te doen vir ’n stalletjie by dié mark, stuur e-pos na adamandevecol@gmail.com. Aansoeke moet ’n foto van ’n vorige stalletjie of uitstalling insluit sowel as ’n beskrywing van die produk of diens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.