Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
US: Gedrag nie ‘onbehoorlik’

Die Universiteit Stellenbosch sal nie die hofaansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Inligting (Paia) wat verband hou met die onafhanklike ondersoek van afgetrede regter Burton Fourie teenstaan nie.

Die hofaansoek het gevolg op ’n vroeëre Paia-versoek van dr. Leon Schreiber om inligting beskikbaar te stel wat regter Fourie gebruik het in sy ondersoek na die bewerings dat die US se rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, onreëlmatig ingemeng het in die hofsaak tussen die US en Gelyke Kanse oor die universiteit se 2016-taalbeleid.

Ná oorweging van die hofaansoek en ondersteunende verklarings, asook verwante omstandighede, het die US besluit om nie die aansoek teen te staan nie. Hierdie besluit impliseer nie dat die US die applikante se sienings en bewerings gelyk gee nie. Die US is van mening dat die onafhanklike ondersoek van regter Fourie dr. Schreiber en die DA se bewerings weerlê. Die rekord van die Fourie-ondersoek, naamlik die transkripsies van mondelinge verrigtinge, geskrewe kommunikasie en ander dokumente waarin die applikante wil insae hê, sal ook regter Fourie se bevindings ten opsigte van die rektor en afgetrede regter Cameron ondersteun.

Die US-raad het die Fourie-verslag in Desember 2019 aanvaar en ook aan die publiek beskikbaar gemaak. Regter Fourie het in sy verslag bevind daar is geen meriete in die bewerings van ongerymdhede in die gedrag van prof. De Villiers as rektor van die US of regter Cameron in die saak in die Grondwetlike Hof oor die universiteit se 2016-taalbeleid nie.

Tien regters van die Grondwetlike Hof het op 10 Oktober 2019 eenparig in die guns van die US beslis in die saak waarin die US ’n hofaansoek van Gelyke Kanse, om die instelling te dwing om na die 2014-taalbeleid terug te keer, teengestaan het. Hierdie uitspraak van die Grondwetlike Hof het die uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof van 2017 bekragtig dat die US se meertalige en inklusiewe 2016-taalbeleid aan die Grondwet en die Wet op nasionale taalbeleid vir hoër onderwys (2002) voldoen.

Dr. Schreiber, in sy hoedanigheid as ’n US-alumnus, het op 24 Oktober 2019 versoek dat die universiteit ’n onafhanklike ondersoek teen prof. De Villiers instel wat sy rol in die benoeming van afgetrede regter Cameron as ’n kandidaat vir die amp van kanselier by die US betref.

Hierdie bewerings van dr. Schreiber het gevolg op ’n versoek wat die rektor in Julie 2019 aan regter Edwin Cameron gerig het om homself beskikbaar te stel om benoem te word as kandidaat vir die US-kanselierskap wat begin 2020 vakant sou raak. ’n Kieskollege bestaande uit lede van die raad, lede van die uitvoerende komitee van die senaat, sowel as die president en visepresident van die konvokasie van die US, het die nuwe kanselier in September 2019 verkies.

Ná oorweging van dr. Schreiber se klagte teen die rektor, het die uitvoerende komitee van die US Raad (UK(R)) op 31 Oktober 2019 besluit om ’n onafhanklike ondersoek te hou ingevolge goeie beheer-en-bestuur-praktyk en deursigtigheid. Die UK(R) het regter Fourie aangestel om die ondersoek uit te voer.

Regter Fourie het op 26 November 2019 op grond van die onderhoude wat hy gevoer het en die dokumentasie wat aan hom beskikbaar gestel is, tot die slotsom gekom geen bewyse bestaan dat die optrede van die rektor rakende die benoeming van regter Cameron vir die amp as kanselier van die US ’n ernstige oortreding van die reg, of ernstige wangedrag was nie.

Volgens die Fourie-verslag het die bewyse hoogstens getoon dat die rektor, soos hy verplig was om te doen, gehelp het – en moontlik selfs die leiding geneem het – om geskikte kandidate vir die benoeming van ’n nuwe kanselier te identifiseer.

Regter Cameron, aan die ander kant, het homself eers vir benoeming beskikbaar gestel nadat advokaat Jan Heunis SC namens Gelyke Kanse skriftelik aangedui het dat hy nie beswaar sal maak teen die benoeming van regter Cameron nie.

Die getuienis in geheel het volgens regter Fourie nie gedui op onbehoorlike gedrag deur die rektor of regter Cameron nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.