Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
US ’n uitskieter op wêreldranglys

Die Universiteit Stellenbosch word plaaslik en in die buiteland erken vir sy uitnemende navorsing en innovasie. Dit is weer eens bevestig in die jongste Times Higher Education (THE)-wêreldranglys vir universiteite vir 2021, wat op Woensdag, 2 September vrygestel is.

Die Universiteit verskyn in die kategorie 251-300 en is derde onder Suid-Afrika se voorste universiteite. Altesaam 1 527 instellings uit 93 lande verskyn op die ranglys.

As ’n gesaghebbende ranglys van die wêreld se beste universiteite is die THE-wêreldranglys vir universiteite die enigste wêreldwye prestasievoorranglys wat navorsingsintensiewe universiteite dwarsoor al hul kerndoelwitte, naamlik onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale uitkyk beoordeel.

Prof. Hester Klopper, die US se viserektor vir strategie en internasionalisering, het in reaksie op die instelling se jongste prestasie gesê die US se gevestigde plek op die ranglys is ’n bewys van sy wêreldwye navorsingsimpak en die aansien wat die gehalte en statuur van sy navorsers geniet. “Om in die 251-300-kategorie te verskyn, beteken die US het ver bo die meerderheid van deelnemende universiteite wêreldwyd presteer. Hoewel die universiteit bewus is van die belangrike rol wat ranglyste in die algehele beskouing van ’n instelling se akademiese en navorsingsreputasie speel, bly ons gefokus op akademiese en navorsingsuitnemendheid wat die wêreld ’n beter plek vir almal sal maak. Dit is egter baie bevredigend om internasionale erkenning te ontvang in ons strewe om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te word wat wêreldwyd erken word as ’n plek van uitnemendheid en innovasie waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word.”

Die US het weer vanjaar in die aanwysers bedryfsinkomste (kennisoordrag en ’n universiteit se vermoë om finansiering uit die handelsmark te lok), navorsing (aantal akademiese artikels wat verskyn het, reputasie vir navorsingsuitnemendheid en inkomste) en sitasies (aantal kere wat gepubliseerde werk van die universiteit wêreldwyd deur vakkundiges aangehaal word) verbeter.

Die belangrikste verbetering was die bedryfsinkomstetelling* van die vorige (2020) telling van 59,1 tot 73,1 op die 2021-THE-wêreldranglys (verbetering van 23,7%).

Hierdie telling van 73,1 en die 152ste plek uit 1 527 universiteite wat vir die 2021- THE-wêreldranglys beoordeel is, beteken die US het ver bo die oorgrote meerderheid van deelnemende universiteite wêreldwyd presteer. Die middelwaardetelling vir alle universiteite wat op grond van hierdie aanwysers beoordeel is, is 38,5, terwyl die derde kwartiel teen 50 bereken is. Die boonste punt is 72,8, wat beteken ’n telling van 73,1 is ’n top-uitskietertelling.

Die US het ook verlede maand onder die voorste universiteite op die 2020 Academic Ranking of World Universities (Arwu), ook bekend as die Shanghai-ranglys, verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.