Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
US: Slegs mans sal in 2021 by HM gehuisves word

Ná onlangse samesprekings tussen die Universiteit Stellenbosch (US) se bestuur, studenteleiers en ondersteunende alumni van Huis Marais (HM), is ’n ooreenkoms bereik dat die koshuis in 2021 die tuiste van slegs manstudente sal bly.

Dít luidens ’n verklaring deur prof. Arnold Schoonwinkel, viserektor: leer en onderrig, wat Woensdag 11 November uitgereik is.

Die universiteit het op 14 September planne aangekondig om HM in ’n gemengde koshuis te verander.

Talle oud- en huidige inwoners van HM was erg omgekrap oor die US se planne vir die koshuis.

Volgens Schoonwinkel het die partye samesprekings gevoer met die doel om ’n beter verstandhouding tussen die onderskeie partye te bevorder en om tot ’n vergelyk te kom.

“Hierdie besluit herroep ’n vroeëre aankondiging dat Huis Marais aanstaande jaar geen nuweling-studente sou ontvang nie en dat ’n nuwe ko-ed-studentegemeenskap in ’n deel van die gebou gevestig sou word,” lui die verklaring.

Schoonwinkel het in sy vorige verklaring aangekondig, soos in 2020, dat geen nuwelingstudente in 2021 aan Huis Marais toegeken word nie omdat die koshuis nie ’n samehorige poging aangewend het om ’n heilsame gemeenskap te skep wat die waardes van die US weerspieël nie.

“Die nuwe ooreenkoms bepaal dat HM ’n manskoshuis sal bly; dat dit sowat 90 eerstejaar- en 60 nuwe senior studente in 2021 sal ontvang; en dat ’n proses in werking gestel sal word om ’n verenigde en geïntegreerde gemeenskap te skep.”

Luidens Schoonwinkel se onlangse verklaring het die HM-gemeenskap hom verbind tot ’n etos wat met die US se waardes versoenbaar is en het ooreengekom om met die hulp van die US, konkrete maatreëls in te stel om as ’n gemeenskap te groei.

“Om hierdie doelwit te bereik, maak die ooreenkoms voorsiening vir onder meer ’n huiskomitee (HK) van 14 lede saamgestel uit die bestaande verkose HK-lede van Huis Marais en bykomende lede wat uit die geledere van die huidige HM-gemeenskap en senior nuwelinge aangestel sal word.

“Voorsiening word ook gemaak vir die opstel van ’n nuwe of aangepaste grondwet en ’n gedragskode in ’n gesamentlike poging tussen HM, die US se sentrum vir studentegemeenskappe en ’n komitee van HM-alumni.

“Die sentrum vir studentegemeenskappe sal sekere duidelike riglyne verskaf en sal met die aanstelling van ’n fasiliteerder help om ondersteuning te verskaf.

“Die US en HM sal saam werk om, gegrond op ons institusionele waardes, ’n florerende toekoms vir die koshuis te verseker.”

Die HM-koshuiskompleks huisves tans inwoners van Huis ten Bosch tot die einde van 2020 ná ’n brand by dié koshuis in 2019.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.