Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
US-SR en Afriforum se jeug stamp koppe

Onmin heers tans op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) tussen AfriForum se jeugtak op kampus en die studenteraad (SR) van die vorige termyn.

Die ongelukkigheid in die AfriForum-kamp spruit uit skynbare roekelose, sinnelose en twyfelagtige uitgawes van die SR in die termyn van 2018-’19.

Die organisasie het 12 Augustus en weer 26 Augustus ’n e-pos aan die US se studenteraad gestuur waarin die termyn van 2018-’19 se finansiële en termyn­verslae, ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (Wet nr. 2 van 2000), aangevra word. Die studenteraad het tot dusver versuim om op enige van die twee e-posse te reageer, volgens die organisasie.

“Die US se studenteraad het in 2018 sy reusebegroting met ’n beginsaldo van meer as R2 miljoen bykans net op politieke propaganda bestee – dít terwyl aan studente gesê is dat tweetalige onderrig te duur is, studente sonder handboeke sit weens finansiële druk en studente hul studies moet opskort weens ’n tekort aan geld. Die US-studenteraad is besig om studente ’n groot onreg aan te doen,” sê Juandré de Bruyn, voorsitter van AfriForum Jeug se Maties-tak.

“Ons wil hê die gewone student moet weet waarheen hul geld gaan, en entoe­siastiese goedkeuring daarvoor gee. Baie studente was ontsteld toe dit aan die lig gekom het waarvoor die SR hul geld in die vorige termyn bestee het. Ons soek ook die gedetailleerde termynverslae vanaf die studenteraad en spesifieke besonderhede oor waarom die SR-lid op die uitvoerende raad, Melt Hugo, gevra is om in ’n onderhoud met SR-bestuurs­kandidate uit te sit omdat hy manlik is.

“Ons soek ook redes waarom (tugstappe) teen die SR-lid Mariné Bothma, wat lid is van die organisasie, Progress SA, ingestel is nadat sy goedkeuring gegee het dat Progress SA plakkate, wat vryheid van spraak en dialoog bevorder, op kampus mag opsit.

“Ons eis ook ’n verduideliking waarom die SR, nadat hulle Bothma se plakkate verwyder het, toestemming gegee het aan Paul Joubert en sy organisasie, Students for a Democratic Society, om plakkate wat Progress SA se stellings teenstaan, op te sit,” het De Bruyn gesê.

Luidens ’n e-pos wat die studenteraad op 13 Augustus 2018 aan studente gestuur het, is in daardie termyn onder meer begroot vir vrouebemagtiging (R36 800), transformasie (R36 000) en seksuele bewustheid (R41 450).

Volgens De Bruyn is dit heeltemal onaanvaarbaar dat studente, veral diegene wat ’n beurs geweier is weens identiteitspolitiek, elke jaar derduisende rande moet opdok om propaganda wat teen hulle gemik is, te finansier. “Hierdie onsinnigheid geskied terwyl slegs R6 000 aan vertaaldienste en slegs R8 000 aan noodhulpopleiding bestee is. Ons as AfriForum Jeug by Maties wil graag sien dat hierdie geld eerder aan werklike studentebehoeftes bestee word.”

Martin Viljoen, die US-woordvoerder, het by navraag gesê die sentrum vir studenteleierskap en -strukture se kantoor vir studenteregering bied opleiding en deurlopende ondersteuning aan die SR vir, onder meer, die verantwoordelike bestuur van hulpbronne en fondse, en hierdie opleiding bevorder deursigtige en verantwoordbare leierskap. Die SR het die reg om self te besluit hoe hy sy begroting bestuur en maak dit aan studente bekend.

“Die US het volle vertroue in die SR om te bepaal watter projekte en bewusmakingsprojekte op kampus bedryf moet word en waaraan studente ’n behoefte het. Hierdie projekte is geïdentifiseer in oorleg met studente en wye samewerking met die kampusgemeenskap – dit is nie projekte wat in isolasie bestaan nie. Die SR het ook menige ander projekte waaraan geld bestee word en wat deel is van die begroting. “Daar is talle ander projekte op kampus wat studente se behoeftes ondersteun, maar nie noodwendig deur die SR geïnisieer of bestuur word nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.