Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Usiko reik al verder uit om mense te help
Usiko het al koshulp aan inwoners in 10 Noord-Kaapse dorpies, insluitend Kheis, verleen.

Vrywilligers van die jeugorganisasie Usiko in Jamestown gaan voort met die werk wat hulle aan die begin van die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie begin het.

Eikestadnuus het in Mei berig hoe Usiko in daardie stadium reeds koshulp aan honderde mense in Jamestown, ander dele van Stellenbosch sowel as inwoners in verskeie dorpies in die Noord-Kaap verleen het.

Volgens Arnold Okkers, direkteur van Usiko, verskaf dié organisasie sonder winsbejag steeds kospakkies een keer per maand aan ongeveer 150 families in Jamestown wat steeds in die nood is. Dit sal tot Desember voortgaan. “Dis ’n redelik groot kospakkie en ons kry goeie terugvoering daaroor. Dis ’n groot aanvulling vir pensioentrekkers en mense wat slegs ’n kindertoelae ontvang. Dit help om ander dinge in die huishouding verder te rek omdat hulle sekere kos nie hoef te koop nie.”

’n Gemeenskapstuin waarmee die organisasie ook tydens vlak 5 van die inperking begin het, werp weekliks vrugte, oftewel groente, af. ’n Inwoner het haar grond vir dié doel aangebied.

Die organisasie deel weekliks oeste van die tuin uit en het dit sedertdien uitgebrei. “Ons kry baie ondersteuning vir die tuin en beplan om nog verder te gaan daarmee. Ons wil meer tuine by gemeenskapslede vestig. Die tuin is ’n groot pluspunt. Ons moedig inwoners aan om tuine by hul huise te plant en het reeds twee families in hierdie verband gehelp om hulle te help voorberei en van saailinge en kompos voorsien. Ons kry ook een keer per maand opleiding van ’n maatskappy wat ons organiese boerdery leer.”

Usiko ontvang ook oortollige groente van plaaslike kleinboere in Jamestown.

Arnold sê benewens plaaslike kleinboere in Jamestown is daar nog heelwat mense in die gemeenskap sowel as inwoners van buurdorpies wat die projek ondersteun.

Noord-Kaap
Groente uit die gemeenskapstuin word weekliks uitgedeel.

“Ons kyk na maniere om kinders te help, want daar is nog kinders wat aan deure klop vir kos. Ons wil dalk die sop na die laerskole neem. Mense in die gemeenskap maak nog op sekere dae sop en ontbyt op ander dae.”

Die papierstelsel om te bepaal hoeveel families behoeftig is, word steeds gedoen om seker te maak die regte mense ontvang hulp en dat niemand misgekyk word nie. Volgens die stelsel het die organisasie tydens vlak 5 koshulp aan ongeveer 550 gesinne verleen en 330 gesinne tydens vlak 3 van die inperking en oor die laaste paar maande aan tussen 150 en 200 gesinne.

Sedert Mei het vrywilligers van Usiko nóg reise na dorpies in die Noord-Kaap onderneem om daar ook hulp te verleen. Vrywilligers gaan die komende naweek (17 Oktober) na die dorpie Vermaaklikheid naby Riversdal om kospakkies, klere en beddegoed aan 57 huisgesinne wat in nood verkeer, te oorhandig.

“Hulle het ons om hulp genader. Ons het al altesaam 10 Noord-Kaapse dorpe asook Beaufort-Wes bereik. Ons kyk na afgeleë dorpe wat nie eintlik hulp tydens die pandemie gekry het nie.”

Usiko fokus sedert sy bestaan op jeugontwikkeling, misdaad-voorkoming en lewensvaardigheidsprogramme. Die organisasie het die afgelope tyd weer hierop begin fokus deur onder meer kampe met klein groepies kinders aan te bied. “Ons het ’n buite-klaskamer in die tuin en hou sessies met klein groepies kinders. Ons bied leerondersteuning om kinders terug in die skole te kry, lewensvaardigheid te leer en misdaad te voorkom.

* Die vereistes vir ’n kospakkie van Usiko is dat niemand in die huishouding ’n vaste inkomste het nie. Jamestown-inwoners wat pensioen of kindertoelae ontvang, mag aansoek doen.

* Die organisasie verwelkom enige finansiële bydrae of skenkings van droë bestanddele, beddegoed en klere.

*Vir skenkings of om aansoek te doen vir ’n kospakkie, skakel 021 880 2157 of e-pos arnold@usikostb.org.za of besoek hul kantoor by Webersvalleistraat 37.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.