Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Vat saam hande teen misdaad’

Net meer as ’n jaar nadat hulle ’n buurtwag in hul straat op die been gebring het, moedig die buurtwaglede van Mosesstraat ander gemeenskapslede aan om dieselfde te doen.

Die buurtwag het in Januarie sy akkreditasie van die departement van gemeenskapsveiligheid ontvang en sal voortaan die koue winterweer aandurf om hul straat te beveilig.

Stephanie Heneke, die voorsitter, sê sy het die buurtwag gestig ná ’n reeks inbrake in die straat waarin een van die huise aan die brand gesteek is. “Terselfdertyd was daar ook ’n wendyhuis in ’n ander straat aan die brand. Toe vind ons uit dis ’n nuwe taktiek wat inbrekers gebruik om van bewyse ontslae te raak.”

Volgens Heneke word Mosesstraat deur baie mense as ’n deurloopstraat gebruik. “Dis ’n deurloopstraat en ’n kortpad na die agterbuurt. Dis ook die straat wat by Botmanskop- en Dahliastraat aansluit en dan toegang gee tot die nuwe Helshoogtepad na Uniepark. Ons het die deurloopstraat van verskillende voete en soorte mense geword.”

Hulle kan egter nie die hele Idasvallei patrolleer nie, vertel Heneke. “Ek moedig mense gereeld aan om buurtwagte in hul strate te stig, want ons kan nie die hele Idasvallei dek nie. As ons kyk na al die klagtes van mense, meestal oor inbrake, dan sal ons baie baat daaruit vind om in elke straat een te hê. Wat gebeur wanneer ons die misdaad in ons straat uitroei? Dit gaan maar net na die ander strate versprei. As ons almal hande vat, kan ons help om die misdaadsyfer in Idasvallei af te bring.”

Die buurtwag het sowat twee weke gelede met sy eerste inhegtenisneming gehelp. Nikkie Andries vertel: “Ons was uit op ons gewone rondes toe ’n vrou kom sê hulle het twee ouens in hul agterplaas gevang. Die ouens was so braaf hulle het gesê hulle sal terugkom. Hulle het die neiging om te dink ons patrolleer nie wanneer dit reën nie. Iemand het vir ons geskree ‘daar loop die twee’, toe sit ons hulle agterna. Ons het een van die ouens in iemand se agterplaas vasgetrek. Hulle het nie eens geweet daar was iemand op hul eiendom nie. Toe die polisie die outjie kom haal, toe sê hulle ‘al weer jy’.”

Dwelms, ’n hamer en ’n mes is by die man gevind, vertel Andries en sê die polisie was baie vinnig op die toneel.

“Daar is baie negatiwiteit oor die polisie, maar as jy ’n geakkrediteerde buurtwag is, het jy direkte kontak met wetstoepassers wat dan die polisie oor die voorvalle inlig. Ons het dus die volle ondersteuning van wetstoepassers en die polisie,” vertel Heneke.

Die buurtwag verander gereeld die rooster wanneer sy lede patrolleer sodat mense nie gewoond kan raak daaraan nie.

Lt.kol. Errol Merkeur, stasiebevelvoerder van die Cloetesville-polisiekantoor, doen gereeld ’n beroep op die gemeenskap om die polisie te help om misdaad te bekamp. “Buurtwagte help met die daling van misdaad veral wanneer dit by rooftogte en inbrake kom. Dit is een van die strategieë wat die polisie gebruik om misdaad te bekamp, veral wanneer sigbaarheid verhoog moet word. Die polisie is die gemeenskap en die gemeenskap is die polisie. Ons kan dit nie sonder mekaar doen nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.