Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Verlamming teister SA

Prof. Ben Turok het die gees van intellektuele verlamming wat Suid-Afrika teister, by die eerste spitsberaad oor sosiale geregtigheid betreur.

Die gesprek, wat op die Hazendal-landgoed gehou is, is deel van ’n projek van die Universiteit Stellenbosch (US) se regsfakulteit se leerstoel vir sosiale geregtigheid wat deur prof. Thuli Madonsela beklee word.

Hy het gepleit dat radikale alternatiewe idees dringend met nuwe energie benader moet word.

Geen tekort aan radikale nuwe idees was by die konferensie te bespeur nie.

Nicky Newton King, uitvoerende hoofbestuurder van die Johannesburgse Aandelebeurs, het gesê dit is nou tyd om te oorweeg of die huidige kapitalistiese model vir Suid-Afrika werk. Sy het bygevoeg dat die huidige gebrek aan duidelikheid oor beleidsrigtings beteken dat die sosialegeregtigheidskwessies wat die land in die gesig staar, nie binne ’n krimpende ekonomie die hoof gebied kan word nie. “ ’n Sosiale lisensie om sake te doen, is belangriker as ’n regslisensie,” het Newton King gesê. “Die land kan nie meer wag vir sosiale geregtigheid nie.”

In sy verwelkoming het prof. Wim de Villiers, rektor van die US, gesê dat die US sy rol in die ongeregtigheid van die verlede diep berou. Hy het die US opnuut verbind tot ’n duidelike breuk met sy verlede en ’n leidende rol om die groot kwessies in die gemeenskap te takel. Volgens De Villiers sal die kwessies slegs opgelos kan word as ’n gesonde hoër onderwysstelsel bestaan.

“In dié gees bied die US hom aan as bron vir gevorderde kennis in diens van die gemeenskap en om die boodskap van sosiale geregtigheid te versprei,” het De Villiers gesê.

Prof. Madonsela het haar leerstoel se ambisieuse Musa-Plan of M-Plan, wat dit ten doel stel om oplossings te vind vir die duisende Suid-Afrikaners wat hulle in armoede vasgevang vind, bekend gestel. “Die ou vakbond­slagspreuk ‘ongeregtigheid aan een is ’n ongeregtigheid aan almal’, moet ’n slagspreuk word vir die mensdom,” het sy gesê.

Jackson Mtembu, minister in die presidensie, het namens die president die inisiatief van die leerstoel verwelkom en gesê die regering is verbind tot die stryd om menslike geregtigheid te bereik. Volgens hom teiken die regering ’n werkloosheid­syfer van 6% teen 2030.

Siki Mgabadeli, radiopersoonlikheid en finansiële joernalis, het dié uitlating later in ’n paneelgesprek ’n waanbeeld genoem. Mtembu het ook gepleit dat deelnemers aan die spitsberaad hulself moet vra of die armes se stem gehoor word. Hy meen dat nuwe beleidsidees vorendag moet kom om die stem van die armes te verhef.

Die voormalige president F.W. de Klerk het in ’n paneelgesprek gesê die Grondwet baan ’n weg vir die daarstel van sosiale geregtigheid.

Prof. Jonathan Jansen het gesê daar sal geen weg vorentoe uit Suid-Afrika se benarde posisie wees sonder ’n behoorlike belegging in opvoeding nie. Hy het ook gesê die regering sal nie binne die afsienbare toekoms van die kapitalistiese model afstand doen nie.

Die eerste dag van die spitsberaad is afgesluit deur ’n resolusie te aanvaar wat die deelnemers verbind tot ’n hernude en gekristalliseerde verbintenis in die strewe na sosiale geregtigheid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.