Jeanneret Momberg, uitvoerende hoof van Visit Stellenbosch, het met kommer gereageer oor die moontlike sluiting van die Jonkershoek-natuurreservaat vir voertuie van 1 Desember.
“Indien die gerugte waar is dat Jonkershoek-natuurreservaat vir voertuie gesluit gaan word, hou dit inderdaad onrusbarende negatiewe implikasies vir ons dorp se toerisme in.
“Buitelug-toerisme is een van Stellenbosch se sleutelaanbiedinge en Jonkershoek is die juweel in ’n kroon van buitelugaanbiedings. Deur voertuie te verbied, sal dit veroorsaak dat die duisende mense wat jaarliks die Jonkershoek-staproetes geniet, nou eers 5 km moet stap voor hulle die staproetes aanpak.
“So sal kinders die geleentheid ontneem word om saam met al die mooi wat Jonkershoek bied, groot te word aangesien dit die stap onprakties vir jong gesinne maak.
“Ek vertrou dat sodra CapeNature en MTO die redes vir die sluiting verskaf, daar werkbare oplossings gevind sal word om te verseker dat die Jonkershoek-staproetes toeganklik bly en in die toekoms ’n wesenlike bydrae lewer tot die toerisme-ekonomie van Stellenbosch,” het sy gesê.V CapeNature en MTO, wat gesament-lik verantwoordelik is vir die bestuur van die Jonkershoek-natuurreservaat, het ondanks herhaalde navrae teen druktyd nie op navrae oor die redes vir die verbod op voertuie of die gebrek aan openbare deelname gereageer nie.