Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vreugde oor titelaktes

Dit was ’n bittersoet dag vir van die 135 families wat Donderdag 28 Februarie titelaktes in die Franschhoek-stadsaal gekry het.

Mina Galant het gehuil toe uitvoerende burgemeester Gesie van Deventer haar titelakte oorhandig. “Die rede hoekom ek so emosioneel is, is omdat ek in my pa se agterplaas gewoon het. Ons was baie verstoot elke dag en vervloek in ons pogings om vir ons ’n huis te kry. My man is al oorlede, daarom is ek vandag alleen hier en ek het my huis gekry sonder hom. So, dis ’n blye oomblik, maar ook ’n hartseer oomblik vir my.”

Galant woon al agt jaar in die huis. Dié behuisingsprojek in Mooiwater, Groendal, het reeds in 2008 begin. Altesaam 231 huise is gebou. Die oorblywende families sal op ’n later tydstip hul titelaktes kry.

Die projek het byna R32 miljoen gekos.

“Ek voel oorweldigend bly. Ek het nie woorde om dit te beskryf nie. Ek gaan dit in my testament ook noem – my kinders mag nooit die huis verkoop nie. Dit moet gaan van geslag tot geslag,” het Galant verder gesê.

Lissie Nyilongo (70) se man is ook al oorlede, maar sy is baie dankbaar dat sy nou ’n huis van haar eie het. “Ek is dankbaar vir die Here ook. Ek voel baie goed. Nou weet ek dis my eiendom.” Sy het 14 jaar in ’n plakkerskamp gewoon waar sy sê sy met een oog oop moes slaap. “Die hokke het gereeld gebrand, maar vandag is ek baie bly.”

’n Getroude paartjie, Elsie (45) en Isaac Boonzaaier, sê hulle was ook agterplaasbewoners waar die omstandighede glad nie ideaal was nie. “Ons het by mense gebly wat baie lelik en onbeskof was. Daar was altyd ’n stryery oor water en krag. Hulle was die eienaars en ons was soos die indringers. My kinders mag nie maatjies in die agterplaas gebring het nie. Dis lekker om jou eie plek te hê waar jy kan maak soos jy wil. Nou het ons ten minste ’n huis van ons eie.”

Volgens Van Deventer het sy in 2016, toe sy burgemeester geword het, beloof om al die uitstaande titelaktes aan die verskillende gemeenskappe te oorhandig. Die Stellenbosch-munisipaliteit het ’n agterstand gehad van 2 700 titelaktes wat aan begunstigdes oorgedra moes word. Verlede jaar is drie groot titelakte-oordragseremonies gehou. Die volgende een is reeds vir Jamestown vir Donderdag 21 Maart geskeduleer.

Die huise in Mooiwater het twee slaapkamers met ’n oopplanleefruimte en -kombuis en ’n badkamer. “Miskien is dit nie baie groot nie, maar daar is soveel mense sonder huise. Dit gaan nie oor hoe groot jou huis is nie, maar hoe gelukkig jou huis is. Vandag raak ’n huis vir julle ’n tuiste. Dis jul eie huis,” het Van Deventer in haar toespraak gesê. Van Deventer skat daar is 5 000 mense net in Franschhoek wat huise wil hê en het gesê die nood in die groter Stellenbosch-omgewing is omtrent 20 000 families. “Die munisipaliteit is tans besig om ’n nuwe opname te maak, maar die nood is baie groot.”

Volgens Van Deventer vra mense in die gemeenskappe oral waar sy gaan vir huise.

Sy het dus die nuwe huiseienaars aangemoedig om mooi na hul titelaktes en huise om te sien. “Daardie dokument is vreeslik belangrik. Dit bewys die huis behoort aan jou. Moet dit nie verloor of vir enigiemand gee nie; pas dit met jou hele hart op.

“Ek weet soms het mense geld nodig, maar moet dit nie vir enigiemand gee nie. Dis deel van jou. Moet ook asseblief nie jul huise verkoop nie. Dit beteken jy het nie ’n huis nodig nie.”

Van Deventer het ook verwys na ’n aanhaling wat sê “die huis is waar jou storie begin”.

“As jy nie ’n blyplek het nie, het jy niks. As jy siek word, kan jy by die huis bly. As jy jou werk verloor, het jy steeds jou huis. Dis baie belangrik dat mense dankbaar is wanneer hulle huise kry.

“Die dag as jou huis jou eie word, as jy daai papier in jou hand het, dan kan jy sê ‘hierdie is my huis’.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.