Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Vroue het meer om te geniet’

Dit is baie lekker om deesdae ’n moderne vrou te wees, sê Isabel Roos, besturende direkteur van die Isa Carstens-akademie, “want daar is meer mooi en lekker dinge vir hulle om te geniet as ooit te vore”.

Dit lekkerste ding, volgens haar, is die groot verskeidenheid maniere waarop die moderne vrou haar kan versorg – van meer ekonomiese skoonheidsbehandelings tot duur behandelings.

“Wat my ook opgewonde maak, is dat die skoonheidsbedryf baie nou saam met dokters werk.”

Toe haar ma, Isa, 40 jaar gelede haar salon geopen het, was dit nie moontlik nie.

“Skoonheidsterapeute het die vel destyds op ’n ander manier as die dokters leer ken. Die gaping tussen die terapeut en die dermatoloog was te groot. Deesdae werk ons nou saam.”

Dit is nie net die terapeute wat by dié hegte verhouding baat vind nie, sê sy, maar ook hul kliënte.

“Daar is soveel voorbeelde van hoe die innerlike gekoester word as die uiterlike versorg word. Jy het weer selfvertroue en voel gemaklik. Jy voel asof jy enigiets kan doen.”

Carstens het toevallig in die skoonheidsbedryf beland. Sy het ná matriek nie geweet wat om te studeer nie en het ’n kursus in mondhigiëne by Stellenbosch Universiteit begin volg.

Dit het haar net twee weke geneem om te besef dat sy nie heeldag in ander mense se monde wil vaskyk nie. Sy het toe ’n kursus in skoonheidsbehandeling voltooi en besluit om by haar ma se onderneming aan te sluit.

“Die plan was om my praktiese werk te voltooi om my diploma te kry en dan universiteit toe te gaan. Ek is uiteindelik nooit universiteit toe nie.”

Sy het by haar ma in die salon begin werk en later Malmesbury toe verhuis waar sy haar eie salon geopen het. Uiteindelik het sy egter haar weg terug Stellenbosch toe gevind en by die Isa Carstens-akademie begin klasgee.

Hoewel sy dit geniet het om klas te gee, het die administratiewe en strategiese kant van die onderneming ook haar aandag vereis. “Ek het nog altyd van wiskunde gehou; dit was een van my gunstelingvakke op skool. Dit het my gehelp, want jy moet somme en planne in ’n sakeonderneming maak.”

Om by dié aspek van die onderneming betrokke te raak, het beteken dat sy nie meer klas kon gee nie – iets wat sy nou nog mis.

“ ’n Oorsese dosent wat destyds hier kom klasgee het, het gesê ek is besig om ’n monster vir myself te bou. Sy was reg. Hierdie ding raak so groot dat dit ’n monster is wat jou rondjaag.”

Sy het egter danksy die onderneming geleer en gegroei en talle lewenslesse geleer – die belangrikste daarvan om te volhard en nie te stagneer nie.

“ ’n Mens wonder of jy iets misgeloop het deur nie universiteit toe te gaan nie, maar uiteindelik moet jy jou onderneming laat werk. Ek het by my ma geleer dat jy moet aanhou en weer en weer moet probeer. Jy leer om op te staan as jy geval het.”

Die Isa Carstens-akademie kan ten spyte van administratiewe rompslomp en ’n opdraandestryd met die departement van hoër onderwys vandag ’n groot verskeidenheid kursusse aanbied. Dit gee Isabel die gemoedsrus dat haar studente enige plek in die wêreld sal kan werk.

“Dit was vir my en my ma die rede waarom ons onderrig begin gee het. Ons studente moet employable wees. Die span wat agter my staan, bou saam daaraan om die studente die beste opleiding te gee en ’n sukses van die skool te maak.”

Iets soos ’n wenresep vir ’n suksesvolle onderneming bestaan nie, sê sy.

“Die enigste raad wat ek kan gee, is vasbyt, vasbyt, vasbyt. Ek het geen ervaring gehad voor ek in hierdie bedryf beland het nie, maar ek het geglo aan ons produk en dit wat ons doen.”

Sy sê dit is belangrik om nie net in die kantoor te sit nie, maar te weet wat in die mark aangaan.

“Jy moet weet wat aangaan en jy moet sigbaar wees. Neem deel aan konferensies en debatte, want so kry jy geloofwaardigheid. Dit gee jou selfvertroue en motiveer jou.

“Bowenal moet jy glo in wat jy doen en hou van wat jy doen, want op die ou einde gaan ander dinge jou aandag aftrek en jou ontmoedig as jy nie daarvan hou nie.”

Haar wens vir Isa is dat dit ’n herberg vir mense se menswaardigheid sal word – ’n plek waar holisties na die mens omgesien word.

“Ek wil hê die terapeute moet ’n dieper begrip van die psige van die mens hê sodat ons meer hulp in samewerking met meer professies vir die kliënt kan aanbied en nie net op skoonheid fokus nie.

“Die hernude fokus op die welstand van die mens is een van die redes waarom ek dink ’n robot nooit ons werk sal kan doen nie, want ek wil nog sien hoe sag ’n robot my spiere sal kan masseer!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.