Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wat is Eikestad sonder die eike?

Stellenbosch is bekend vir sy eike wat langs omtrent elke straat in die dorp te sien is.

Maar wat gaan ons die Eikestad noem as daar nie meer eike is nie?

Dít is talle mense se bekommernis nadat verskeie van die dorp se oudste eike die afgelope paar jaar volgens hulle onnodig verwyder is.

Riaan van Zyl is ’n plaaslike boomkenner wat reeds sedert 2016 die munisipaliteit kritiseer oor die swak instandhouding van die dorp se historiese eike.

Hy sê die verwydering van dié bome, in veral die dorp se historiese kern, is traumaties en onregverdig vir inwoners en sakeondernemings.

Hy verwys in ’n verslag, wat verlede maand saamgestel is, na spesifieke bome wat onlangs verwyder is, onder meer een wat al vir 200 jaar op die hoek van Kerk- en Andringastraat gestaan het.

“Daar is steeds ná meer as twee jaar niks op die plek geplant waar die boom gegroei het nie. Restaurantgangers het hul skaduwee verloor. Die persoon wat die boom verwyder het, het vir my gesê dit was onnodig,” lui die verslag.

Van Zyl het ook verskeie vrae gevra rakende die prosedures wat gevolg word wanneer daar besluit word om veral historiese bome te verwyder.

Hy meen daar word nie genoeg ge­doen om inwoners van die dorp se kommentaar oor dié kwessie in te samel nie.

“Die inwoners van Stellenbosch behoort te vra wie die beskermheer van hierdie bome is. Waarom kan ’n munisipale amptenaar hierdie aksie neem sonder ’n konsultasieproses?”

Hy wil ook meer duidelikheid hê oor die alternatiewe opsies wat oorweeg is toe daar beslis is dat die bome sieklik “siek” was en watter behandelings geïmplimenteer is om die bome se gesondheid te herstel en die kans van verwydering te verminder.

“Ongelukkig is die historiese en kulturele waardes van hierdie bome asook hul erfeniswaarde nou vir ewig verlore,” sê hy.

Stuart Grobbelaar, kommunikasie­bestuurder by Stellenbosch-munisipa­liteit, sê die munisipaliteit beskou die bestuur van die munisipale bome, en veral die historiese bome, as uiters belangrik.

“Dit is belangrik dat die bome holisties bestuur word om sodoende die bome se leeftyd te verleng. Die bome dien as reusebates vir die dorp en dra nie net by tot die dorp se karakter nie, maar ook sy naam, Eikestad,” sê Grobbelaar.

“Dit is uiters belangrik dat die dorp hierdie karakter behou en dat die bome vir toekomstige generasies bewaar moet word. Die eike word beskou as deel van die historiese kern van Stellenbosch en daarom is dit kritiek belangrik dat Stellenbosch-munisipaliteit, in samewerking met sy inwoners, alles in sy vermoë doen om die bome te bewaar.”

Hy sê die munisipaliteit se verowering van die gesogte Boomstadkompetisie in 2014 en 2017 dien as bewyse dat Stellenbosch-munisipaliteit werklik ernstig is oor die bestuur en bewaring van die dorp se bome.

Hy vertel verder daar bestaan reeds vir baie jare ’n Boom-advieskomitee in Stellenbosch en enige inwoner is welkom om hom of haar beskikbaar te stel om in dié komitee te dien.

“Verlede jaar is inwoners genooi om in die komitee te dien. ’n Vergadering met die belastingbetalersvereniging het ook reeds plaasgevind om moontlike belangstellendes te identifiseer om in die komitee te dien.”

Volgens Grobbelaar vind deurlopende bestuur en ontleding van die dorp se bome gereeld plaas.

“Stellenbosch is in die bevoorregte posisie om van die beste boomkundiges in Suid-Afrika te hê. Die munisipaliteit maak reeds van die kundigheid gebruik, maar beplan om die samewerking op te skerp.”

Hy sê die munisipaliteit het ’n afdeling wat verantwoordelik is vir die instandhouding van die dorp se bome. Die munisipaliteit het ook ’n stedelike boombestuursplan wat gedurende 2017 hersien is.

Wanneer daar besluit word om bome te verwyder, word die volgende proses gevolg:

Nadat die bome deur amptenare in beheer van stedelike bome ondersoek en ontleed is, word die inligting met die boom-advieskomitee gekommunikeer.

Ander kundiges word ook betrek voor die finale versoek aan die direkteur gemeenskap- en beskermingsdienste voorgelê word vir finale goedkeuring.

Goedkeuring word ook verleen deur Erfenis Wes-Kaap.

Hy sê slegs drie van die historiese bome wat deur die munisipaliteit geëvalueer is, is uiteindelik verwyder.

“Die toestand van die bome is ontleed deur verskeie kundiges en die besluit is geneem om hulle af te saag weens die feit dat hul toestand van so ’n aard was dat hulle tot lewens- en eiendomsverlies kon lei.

“In hierdie stadium is daar geen planne om nog akkerbome te verwyder nie.”

V Inwoners wat belangstel om by die Boom-advieskomitee aan te sluit, kan Maindren Chettiar by 0 021 808 8132 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.