Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Waterpype bars ‘weens ouderdom’

Inwoners van La Colline is raadop oor waterpype in die gebied wat soms so gereeld as elke tweede week bars.

Paul Zwick, ’n lid van die La Colline-behuisingskomitee, sê die pyp wat verlede week in Dan Pienaarstraat gebars het, is seker die 20ste wat die afgelope tyd in die gebied gebars het.

Zwick voer aan dat die munisipaliteit slegs lapwerk doen as hy die pype regmaak in plaas daarvan om dit te vervang.

Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder by Stellenbosch-munisipaliteit, sê wanneer ’n pyp bars, is die munisipaliteit se eerste prioriteit om te verseker dat die watertoevoer so gou as moontlik herstel word.

“Daarom word die gedeelte van die pyp wat gebars het of beskadig is spoedig vervang. Die komplekse aard van die waternetwerk maak dit byna onmoontlik om ’n hele straat of blok se watertoevoer vir lang tye af te skakel sodat al die pype vervang kan word.”

Volgens Grobbelaar word inwoners se watertariewe nie verhoog wanneer ’n pyp bars nie.

“Watertariewe word jaarliks deur die raad vasgestel wanneer die jaarlikse begroting goedgekeur word. Die tariewe is van toepassing op almal in die munisipale gebied van Stellenbosch en bly vir die boekjaar dieselfde.”

Hy verduidelik verder pype wat bars kom veral voor in die ouer, meer gevestigde gebiede van Stellenbosch, waar daar nog ouer pype is.

“Ongelukkig is die meeste van hierdie pype byna aan die einde van hul dienstyd en begin hulle weens ouderdom bars.”

Die droogte en gevolglike drukverlaging in sekere gebiede lei ook tot gevalle waar pype bars.

Grobbelaar sê voorvalle van gebarste waterpype wat by die munisipaliteit aangemeld word, neem oor die laaste paar jaar geleidelik af.

In 2015 is 273 voorvalle aangemeld in vergelyking met 190 voorvalle verlede jaar.

Teen einde Februarie is 35 voorvalle by die munisipaliteit aangemeld.

Die munisipaliteit is reeds ’n paar jaar lank besig met ’n program om pype te vervang. Dit maak voorsiening dat jaarliks begroot word vir die vervanging van ouer pype, sê Grobbelaar.

Ten einde te verseker dat die vervanging van pype op ’n regverdige en wetenskaplike wyse gedoen word, is ’n model ontwikkel waarvolgens die prioritisering van pype wat vervang moet word, geskied.

Die model neem verskeie faktore in ag, soos hoe gereeld die pype bars, die risiko ten opsigte van skade indien ’n pyp sou bars en belangrike instellings soos hospitale en skole wat van water voorsien word.

Gewigte word dan toegeken aan elk van die parameters. Die waternetwerk word jaarliks herevalueer en ’n prioriteitslys word opgestel.

“Die munisipaliteit is daartoe verbind om te verseker dat alle inwoners en besighede ononderbroke toegang het tot skoon water en werk terselfdertyd hard om te verseker dat ons pypnetwerk gemoderniseer word.

“Ons sou graag al die pype onmiddellik wou vervang, maar daar is enorme begrotingsimplikasies wat kan lei tot belastingverhogings, daarom word dit in fases gedoen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.