Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wenke vir jou wingerde

Die koue, nat winter wat die meeste wyndruifverbouingstreke tot dusver beleef het, bring goeie nuus vir produ­sente wat nou reeds wingerde vir die 2021-wyndruifoes voorberei.

“Die gereelde kouefronte wat in die Wes-Kaap voorgekom het, gekenmerk deur lae temperature, reën en sneeu, is bevorderlik vir wyndruif­verbouing,” sê die Vinpro-wingerdkundige Etienne Terblanche. Langs die Oranje­rivier is ook ondergemiddelde minimum­temperature aangeteken, wat die produ­sente in die gebied goed te staan kom.

Volgens Etienne is die lae temperature voordelig wat betref die wingerdstok se fisiologie. “Wingerde benodig die akkumulasie van genoegsame koue eenhede in die winter om egalige bot later in die seisoen te verseker. Die koue weer is gunstig om wingerde dormant tydens winter te hou. Teen volgehoue lae temperature is wingerde in staat om in ’n algehele rusfase te bly wat die onnodige uitgee van reserwes verhoed. Dié reser­wes is broodnodig vir die aanvanklike groei wanneer die weer in die lente opwarm.”

Buiten goeie neerslae wat help om grondprofiele en damme vol te maak, lewer sneeu ’n belangrike bydrae tot die aanvul van grondwatervlakke. “Die feit dat dit stadig smelt, verseker diep en behoorlike deurdringing. Soos wat die sneeu smelt, vloei die water tussen krake en rotse in om van die ondergrondse waterreserwes aan te vul wat tydens die onlangse droogte deur boorgate onttrek is,” sê Etienne.

Die afgelope warm en droë seisoene het tot die verbrakking van baie gronde in droë streke gelei. Hierdie soute kon deur gereelde reënval – en veral ’n hele aantal swaar reënbuie – uit die wortelsones geloog word, wat voordelig is vir grond- en wingerdgesondheid.

Wyndruifprodusente is ook nou hard aan die snoei, ter voorbereiding vir die 2021-wyndruifoes. Volgens Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens, strek die snoeitydperk gewoonlik van middel Junie vir vroeër kultivars tot middel September vir laat kultivars soos cabernet sauvignon, afhangend van die hoeveelheid hektare.

“Die algemene reël is prune early, prune wood; prune late, prune fruit. As jy vroeg snoei, stimuleer jy vegetatiewe groei, en as jy laat snoei, stimuleer jy grootliks die oeslading. Dit help ons om die tydsberekening van snoei doeltreffend te bepaal,” sê Conrad.

As deel van ’n gereelde Wingerddinge-rubriek in WynLand-tydskrif deel Vinpro die volgende wenke:

* Die geskikte snoeityd is drie tot vier weke voor die verwagte botdatum en daar moet in een aksie skoon en stomp gesnoei word. In rypgevoelige gebiede kan dit met ogieswel gedoen word.

* Waar botstimulante drie tot vyf weke voor bot toegedien word, word ’n goeie sinergistiese werking verkry indien die snoei (in een aksie) en aanwend van botstimulante so na as moontlik aan mekaar geskied.

* Gebruik wondsnoeimiddels soos Trichoderma in hoëreënvalareas, asook op kultivars soos sauvignon blanc wat meer gevoelig is vir Eutypa.. Beheer onkruid op die bankie met ’n produk na gelang van die soort en stand van onkruide.

* Onder droë wintertoestande en droë­landwingerde, moet dekgewasse verkies­lik voor of met bot doodgespuit en dan platgesleep word om die beste droë materiaalbehoud te verseker.

* Pas die korrekte planttegnieke toe, veral met die maak van die plantgate. Dit verseker ’n suksesvolle vestiging, asook die lewensduur van ’n wingerd.

* Doen instandhouding aan besproeiingstelsel.. Beplan die lente-onkruiddoderprogram, asook kunsmis- en spuitprogramme, in samewerking met chemiese verteenwoor­digers en doen die nodige produkbestel­lings.

* Doen spuitpomp- en kunsmisstrooier­kalibrasies.

* Kontak Vinpro vir nog inligting: www.vinpro.co.za/viticulture/ of bel Gaynor Fortuin by 021 276 0432 of stuur e-pos na gaynor@vinpro.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.