Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Meetinstrumente wat ’n verskil in jou lewe maak
Monitering van die weer hou verskeie moontlikhede in, het Johan du Preez by Campbell Scientific in Tegnopark vasgestel.
: Johan Visagie van Campbell Scientific met ‘n geïntegreerde data-opnemer (regs) wat die maatskappy plaaslik vir Afrika-toestande ontwikkel het en dieselfde funksionaliteit as die oorspronklike, ingevoerde produk (links) het. Foto: joh

“Ons verskaf navorsingsgehalte meetprodukte vir langtermynmonitering van ’n verskeidenheid toestande, onder meer wind, reën en sonskyn,” sê Johan Visagie van Campbell Scientific in die Stellenbosse Tegnopark.

“Verder pas ons ons produkte aan sodat dit spesifiek onder Afrika-omstandighede werk.”

Die maatskappy se meetinstrumente word primêr in die buitelug ontplooi en bestaan hoofsaaklik uit twee substelsels – ’n beheerkomponent met ’n dataopnemer, selfoonmodem en sonpaneel om batterye te laai, en ’n moniteringskomponent wat uit ’n verskeidenheid meetinstrumente bestaan – afhangende van die elemente wat gemeet word – en wat aan die dataopnemer gekoppel word.

Weerkundige of meteorologie-meting is van die meer algemene toepassings wat vir langtermyn-navorsing en vir dag-tot-dag-toepassings soos weervoorspellings gebruik word. Dit sluit die meet van windspoed, windrigting, reënval, temperatuur, humiditeit en sonstraling in. Die toerusting het ook ’n verskeidenheid ander interessante aanwendings, byvoorbeeld deur weerstasies te gebruik om son- en windmeting in gebiede te doen waar windturbine- en sonpaneel-kragopwekkingsprojekte beoog word. Meteorologiedata wat op hierdie manier ingesamel word, vorm die basis van uitvoerbaarheidstudies om wind- of sonpaneelaanlegte van etlike biljoene rand in sulke gebiede op te rig.

Campbell Scientific voorsien ook ander instrumente wat onder meer inligting oor klimaatveranderinge versamel, spanning in die gewigdraende balke van geboue en brûe monitor ten einde die strukture se veiligheid te bepaal, en riviere se watervlakke kontroleer om vloedwaar-skuwings te gee.

Die maatskappy verskaf selfs toerusting wat weerligvoorspellings doen ten einde mense in die ope betyds te waarsku in geval van naderende donderstorms.

Personeel in moniteringsentrums ontleed en verwerk die ingesamelde data wat via selfoonnetwerke vanaf die beheerkomponente ontvang word. Kliënte kan hierdie funksie self verrig of Campbell Scientific kontrakteer om dit namens hulle te doen.

Volgens Visagie is daar ’n tekort aan veral meteorologie-data in Afrika.

“Ons toerusting word reeds in onder meer Suid-Afrika, Mosambiek, Angola, Malawi en Ethiopië gebruik. Ons werk egter hard om meer kliënte te kry om ons toerusting tot voordeel van Afrika se mynbou-, energie-, strukturele en klimaatinfrastruktuur, om maar net ’n paar te noem, aan te wend,” voeg hy by.

In ’n tegnologiese samelewing waar omgewingsinligting soos byvoorbeeld weerstoestande intyds selfs op ons selfone beskikbaar is, dink mens nie eens aan maatskappye soos Campbell Scientific wat die toerusting voorsien om data vir sulke inligting beskikbaar te stel nie. En tog lewer hulle daagliks met hul instrumente se akkurate metings ’n belangrike bydrae om die lewens van nasies en indiwidue op vele terreine beter te maak

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.