Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Drie groet gilde-veiling

Drie plaaslike legendariese wynkenners gaan vanjaar vir die laaste keer in hul roemryke wynmaakloopbaan aan die Kaapse Wynmakersgilde se veiling deelneem.

Dit sal die laaste keer wees wat Etienne le Riche, Jan Boland Coetzee en Kevin Arnold aan dié veiling deelneem. Hierdie jaarlikse skouspel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf spog met ’n noukeurig gekeurde versameling van skaars wyne van besonderse diversiteit spesiaal vir die veiling geskep deur lede van die Kaapse Wynmakersgilde.

Innovasie, vakmanskap en volhoubare gehalte staan uit as die waarmerk van die veiling. Hierdie geleentheid is oop vir die publiek en ’n groot trekpleister vir versamelaars en invloedryke kopers.

Gedurende die afgelope 34 jaar kon Le Riche, Coetzee en Arnold eerstehands ervaar hoe die veiling groei van ’n nisgeleentheid tot die maatstaf van Suid-Afrikaanse wynmaak-vernuf.

Die gilde is in 1982 deur ’n handjie vol jong wynmakers gestig. Hul doelwit was om kennis en hulpbronne te deel, nie net om hul eie kennis te verskerp nie, maar veral om die standaard van die bedryf as geheel te verbeter. Die eerste veiling het in 1985 plaasgevind.

“Die veiling was vir my persoonlik ’n saambindende beweging om as ’n groep ’n verskil te maak, om blootstelling aan wynmakers te gee wat in isolasie werk en om terselfdertyd internasionale erkenning vir die gehalte van Suid-Afrikaanse wyne en ons land se wynmakers te kry. Die streng keuringsproses vir die veiling het ook gedien as dryfveer om uitsonderlike wyne te skep. Ek sal die kameraadskap van die gilde altyd koester,” sê Le Riche.

Medestigterslid Coetzee stem saam: “Die menings van die individue wat die lede van die gilde uitmaak, is die mees verfrissende manier om ons idees uit te daag terwyl ons op ’n sensoriese reis gaan met elke wynproe én ’n onder­steuningsnetwek opbou. My jare as deel van die gilde het my ook gehelp om die uniekheid van die aarde beter te verstaan.”

Arnold beskryf sy reis as stigterslid van die Kaapse Wynmakersgilde as besielend, belonend en uitdagend: “Gedurende die afgelope vier dekades het Suid-Afrika in alle aspekte deur baie veranderings gegaan en die gilde het die voortou geneem in baie van hierdie aspekte in die wynbedryf.”

Elk van hierdie wynmakers het ’n wyn wat by vanjaar se veiling in Stellenbosch opgeveil sal word. Wynkenners sal die geleentheid hê om op Etienne le Riche Cabernet Sauvignon Auction Reserve 2015, gemaak uit ’n enkele wingerdblok uit die Helderberg- omgewing, te bie. Jan Boland Coetzee se Vriesenhof Vineyards Swanesang Pinot Noir 2015 sal in 1,5 liter-magnumbottels, verpak in pragtige houtkiste, opgeveil word. Kevin Arnold se laaste veilingwyn is die Waterford Estate 1988 Kept Aside Chardonnay 2017, ’n belowende wyn wat natuurlike fermentasie in die vat ondergaan het.

Hierdie drie wyne vorm deel van die 2018-veilingversameling van 48 besonderse wyne bestaande uit 31 rooiwyne, 14 witwyne, twee Méthode Cap Classique (MCC) -wyne en een port-styl wyn.

Die 34ste Nedbank Kaapse Wynmakersgilde veiling, wat vir die 21ste agtereenvolgende jaar deur Henré Hablutzel van Hofmeyr Mills Afslaers aangebied word, is oop vir die publiek en sal Saterdag, 29 September by die Spier-konferensiesentrum buite Stellenbosch gehou word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.