Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Gouda-kaas oorheers

Lactalis South Africa se 10 maande Mature Gouda, wat uitsluitlik vir Woolworths vervaardig word, is 26 Maart by vanjaar se Suid-Afrikaanse­ Suiwelkam­pioenskap by die Cavalli-landgoed buite Stellen­bosch vir ’n ongeëwenaarde derde keer as die Suid-Afri­kaanse suiwelproduk van die jaar gekroon.

Dié prestasie is ’n eerste vir die SA Suiwelkampioenskap, wat vanjaar sy 188 ste bestaansjaar vier.

Die Gouda, ’n aromatiese en intens-gegeurde kaas, was een van byna 900 suiwelprodukte van 68 vervaardigers wat om die aandag van 60 beoordelaars meegeding het. Slegs agt produkte uit die groot getal inskrywings is met die Qualité-merk van gehalte vereer (volledige lys van die crème de la crème onder), terwyl 106 as SA kampioene – die wenners in elke kampioenskapklas – aangewys is.

“Vir ’n produk om as produk van die jaar in ’n kompetisie van hierdie omvang aangewys te word, is die droom van elke kaasmaker,” sê Alan Fourie, ’n suiwelkenner en die hoofbeoor­delaar. “Dat hierdie eer vanjaar se wenner van die gesogte titel die derde keer te beurt val, is uitson­derlik. Die Woolworths-10 maande Mature Gouda is ’n produk wat die tyd deurstaan het, maar ook ’n bewys van volgehoue gebruik van uitstekende bestanddele. Tegnies en gastronomies is dit so na aan perfek as wat ’n kaasproduk kan kom.”

Marek Warzywoda, hoofbestuur­der van Lactalis South Africa (LSA), sê sy span is verheug dat die besondere Extra Mature Gouda vir ’n ongekende derde keer as produk van die jaar aangewys is. “Boonop is dit die vierde keer in vyf jaar dat ons die topprys wen. Die LSA-span se harde werk, toewyding en ambisie om produkte van topgehalte te vervaardig, het weer vrugte afgewerp. Ons is geweldig trots op ons prestasie in die 2021- SA Suiwelkampioenskap.”|Enigste groot suiwelkom­petisie

Die SA Suiwelkampioenskap word reeds sedert 1834 met groot sukses deur Agri-Expo aangebied. Volgens Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, is die meeste belangrike internasionale suiwelbyeenkomste wêreldwyd in 2020 gekanselleer en in 2021 uitge­stel. “Trouens, die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap is die enigste groot suiwelkam­pioenskap in die wêreld wat in 2020 en 2021 plaasgevind het,” sê Ehlers. “Om dit moontlik te maak, moes ons die beoordelingsproses aanpas tot twee dae en die prysuitdeling as ’n hibriede geleentheid aanbied.”

Die groot aantal inskrywings en buitengewone produkte wat van­jaar ingeskryf is, is volgens Ehlers redes om optimisties te wees oor die toekoms van die suiwelbedryf in Suid-Afrika: “Vanjaar se uitslae getuig van ’n vernuwende bedryf en gesonde mededinging tussen individue, klein en medium ondernemings, sowel as nasionale en internasionale maatskappye.”

Agri-Expo het ook die Platinum-vennoot Synercore asook al die ander vennote van die SA Suiwelkampioenskap vir hul toewyding tot die ontwikkeling van die suiwelbedryf bedank, naamlik AECI Food & Beverage, die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Condio, Hollard, die Melkprodusente-organisasie (MPO), The Dairy Mail, Woolworths, MANE, Orchem, Polyoak Packaging, IMCD en Tetra Pak.

Die SA Suiwelprysuitdeling kan steeds besigtig word by www.cheesesa.co.za/sadairyawards. 2021 QUALITÉ WENNERS:

Clover – Frankfort (2) Mooi River Salted Butter

Clover Salted Butter Mini Tubs

Lactalis South Africa – Ladismith (2) Woolworths Mature Gouda – 10 Months Matured

Président Mature Gouda – 6 Months Matured

De Pekelaar Boerenkaas De Pekelaar Boerenkaas Old

Famous Brands Cheese Company Steers Processed Cream Cheese Spread – Onion and Chives

Fairview Cheese Company Woolworths Chevin with Garlic and Herb

Fair Cape Dairies Checkers Vanilla Flavoured Custard. Besoek www.cheesesa.co.za vir nog inligting en die volledige uitslae.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.