Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Landbou bly ’n baken van hoop

Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het pas die BBP-syfers vir die laaste kwartaal in 2020 bekendgestel – ’n nugter oorsig van die jaar.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die laaste kwartaal van 2020 ten spyte van die tweede Covid-19-golf met ’n indrukwekkende 6,3% gegroei. Vir die jaar in geheel het die plaaslike ekonomie egter met 7% gekrimp – weliswaar beter as vorige voorspellings.

Die meeste sektore het positiewe groei in die laaste kwartaal in 2020 aangeteken, met die uitsondering van onderskeidelik mynbou en die finansiële sektor.

Volgens Stats SA was die een helder lig in hierdie donker prentjie die landbousektor, wat danksy ’n toename in die produksie van diereprodukte ’n groeikoers van 5,9% in die vierde kwartaal getoon het.

Dié sektor se prestasie vir die jaar was, soos wat verwag is, uiters belowend en het op 13,1% in 2020 te staan gekom.

Hierdie indrukwekkende prestasie word toegeskryf aan ’n aantal bekende faktore, met inbegrip van – maar nie daartoe beperk nie – weerstoestande (soos die positiewe La Niña-verskynsel) en tot ’n groot mate die sektor se klassifikasie as ’n noodsaaklike diens sedert die aanvanklike inperkingsbeperkings, wat voorsiening gemaak het vir landboubedrywighede om voort te gaan, terwyl ’n groot deel van die ekonomie tot stilstand gekom het, sê Agri SA Ekonoom Kulani Siweya.

Hierbenewens het subsektore goed presteer, onder meer die tweede grootste graanoes, uitmuntende prestasie deur die tuinboubedryf en die herstel van die veebedryf.

Sekere subsektore het egter uitdagings ervaar, veral die alkohol- en tabak-bedryf, wat gebuk gegaan het onder verwoestende beperkings op verkope en die verbruik van hul produkte tydens verskeie vlakke van die inperking.

Hoewel die ekonomie in geheel steeds onder druk verkeer, het die afgelope jaar gedien as bevestiging wat verskeie ekonomiese en ander aspekte betref en het Stats SA nou betroubare data wat, onder meer, ’n aanduiding is dat die landbousektor steeds as ’n baken van hoop dien om die vele tekortkominge van die ekonomie die hoof te bied.

Dié data dui daarop dat, met die regte beleidsregime en samewerking, die sektor steeds die ideale geleentheid bied om die ekonomie vinnig reg te ruk. Dit behoort te dien as sterk waarskuwing aan die regering om sy optrede aan te pas by sy woorde suit the action to the word, the word to the action, aldus Shakespeare se Hamlet). Een voorbeeld hiervan is die beperkte begroting wat aan die sektor in die nasionale begroting toegestaan word.

In vergelyking met ander opkomende markte (OM’e), is Suid-Afrika se nasionale begrotingstoekenning aan die landbou oor ’n aantal jare steeds heelwat laer as 2%, terwyl ander OM’e ongeveer 6% aan hierdie sektor bestee. Dit beteken dat daardie spesifieke OM’e ’n BBP-groei van 3,7% (gegrond op ’n 10-jaar-gemiddelde) bereik, terwyl Suid-Afrika se groei ’n meer beskeie 1,7% in dieselfde tydperk is.

Die president en sommige ministers het op verskeie platforms verwys na die belangrikheid van die landbousektor. Indien hulle egter ernstig is oor die dringendheid van ekonomiese herstel in die land en ’n afname in werkloosheid, sal hierdie mooi woorde nou in dade omgesit moet word.

Met die oog op die toekoms is dit duidelik dat menige van die risiko’s in die stelsel dringende aandag moet geniet, met die spoedige implementering van die regte beleid as grondslag vir realisering van die land se groeipotensiaal.

Gunstige weerstoestande heers steeds oor Suid-Afrika en produksievooruitsigte bly belowend. “Dit sal inderdaad as ’n goeie grondslag dien vir nog ’n positiewe jaar vir die sektor,” sluit Siweya af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.