Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Pinotage-makers weer beloon

Byna die helfte van die 20 finaliste in die Absa-toptien-Pinotage-kompetisie kom uit die Stellenbosch-omgewing – wat net weer hierdie kultivar se oorheersing van die streek se wynkultivars bevestig.

’n Rekordgetal van 161 inskrywings is vir die Top-10-kompetisie ontvang en sluit bekende plaaslike produsente soos Beyerskloof, Kaapzicht, Kanonkop en Lanzerac in. Die ander finaliste kom uit die Breedekloof, Piekenierskloof, Durbanville, Kaapstad, Paarl, Darling en Worcester. Vier van die finaliste het twee wyne elk op die kortlys gehad, naamlik Diemersdal, Kaapzicht, Môreson en Kanonkop.

Die lang verwagte aankondiging van die wenners in die 2018-Absa-Top-10-Pinotage-kompetisie is Woensdag 15 Augustus op die Cavalli-landgoed buite Stellenbosch gedoen. Terselfdertyd is Absa se betrokkenheid van 22 jaar by die Pinotage-vereniging, ’n vennootskap wat die standaard vir Suid-Afrika se suksesvolste inheemse wyndruifkultivar gestel het, gevier.

Die paneel beoordelaars vir vanjaar se kompetisie het bestaan uit Neil Ellis van Neil Ellis Wines (voorsitter), Samarie Smith, Benguela Cove se handelsmerk- en sakebestuurder, die wynmaker Francois Haasbroek, die wynopvoeder Nomonde Kubheka en Francois Rautenbach, die wynaankoper vir Singita.

Die 2018-Absa-Top-10-wenners bestaan hoofsaaklik uit wyne wat geskep is deur wynmakers met ’n stewige pinotage-rekord, en almal het dieselfde doelwit voor oë, naamlik om die heel beste pinotage-“meesterstuk” te skep.

Die 2018 pinotage-wenners is:

V Allée Bleue Black Series Old Vine Pinotage 2016, WO Piekenierskloof (Franschhoek-kelder). Wynmaker: Van Zyl du Toit.

V Beyerskloof Diesel Pinotage 2015, WO Stellenbosch. Wynmaker: Anri Truter.

V Diemersdal Pinotage Reserve 2017, WO Durbanville. Wynmaker: Thys Louw.

V Fairview Primo Pinotage 2016, WO Paarl. Wynmaker: Anthony de Jager.

V Flagstone Writer’s Block Pinotage 2016, WO Breedekloof (Somerset-Wes-kelder). Wynmaker: Gerhard Swart.

V Kaapzicht Steytler Pinotage 2015, WO Bottelary-Stellenbosch. Wynmaker: Danie Steytler.

V Kanonkop Pinotage 2013, WO Simonsberg-Stellenbosch. Wynmaker: Abrie Beeslaar.

V Lyngrove Platinum Pinotage 2016, WO Stellenbosch. Wynmaker: Danie van Tonder.

V Môreson The Widow Maker Pinotage 2015, WO Stellenbosch (Franschhoek-kelder). Wynmaker: Clayton Reabow.

V Rijk’s Reserve Pinotage 2014, WO Tulbagh. Wynmaker: Pierre Wahl.

Produsente is vir die tweede jaar uitgenooi om pinotage-wyne ouer as 10 jaar vir die Museumklas in te skryf.

Een van die beoordelaars, Samarie Smith, sê die gehalte van die wyne in hierdie kategorie was “fenomenaal” en sommige van die wyne het byna volpunte van die beoordelaars ontvang.

Die Stellenbosse Museum-klaswenners is:

V Kanonkop Pinotage 2006, WO Simonsberg-Stellenbosch. Wynmaker: Abrie Beeslaar.

V Neethlingshof Lord Neethling Pinotage 2003, WO Stellenbosch. Wynmaker: De Wet Viljoen.

Naaswenners:

V Grangehurst Pinotage 2008, WO Stellenbosch. Wynmaker: Jeremy Walker.

V Neil Ellis Vineyard Selection Pinotage 2008, WO Stellenbosch. Wynmaker: Warren Ellis.

Beyers Truter, die stigter en voorsitter van die Pinotage-vereniging, wys daarop dat die gehalte van die wyne van hierdie kultivar steeds toeneem en dat die mark vir pinotage steeds groei.

“As ’n mens na die gehalte van vanjaar se 20 finaliste kyk, is dit duidelik dat ons wynmakers gewis op die regte pad is om pinotage se gewildheid te laat groei. Hulle omhels nie net die druif se unieke eienskappe nie, maar leer ook hoe om die heel beste in die wingerd en in die kelder daaruit te haal. Hulle is duidelik ook vasbeslote om pinotage se gehalte voortdurend te verbeter en om Suid-Afrikaanse sowel as buitelandse verbruikers in te lig en op te voed oor die uitmuntende wyne wat geskep word.”

Truter sê wynmakers is nou in voeling met hul terroir en dis een van die belangrikste redes vir pinotage se sukses.

“Die Pinotage-vereniging se Vision 2015 poog om alle belanghebbendes byeen te bring met betrekking tot navorsing, die oordrag van kennis en die bemarking van pinotage. Ons wil pinotage se bydrae tot die ekonomie verdubbel in die periode wat in 2025 eindig wanneer pinotage sy eeufees vier,” voeg hy by. “Ons voel bevoorreg dat, ná 22 jaar van saamwerk, die Pinotage-vereniging en Absa steeds in voeling met mekaar is in hul visie om erkenning te gee aan pinotage se uitnemendheid, en deel van ons langtermyndoelwit is om wêreldwyd te floreer.”

John Tshabalala, Absa se bestuurshoof in die Wes-Kaap, het die finaliste en wenners gelukgewens en gesê die groep is trots om hierdie belangrike en toonaangewende bedryfstoekennings saam met die Pinotage-vereniging te kan doen.

“Die individue en wyne wat ons vier, het ’n belangrike en merkwaardige bydrae gemaak tot die landbou-ekonomie en die ontwikkeling van die Wes-Kaap en Suid-Afrika,” het hy bygevoeg.

“Ons is trots om die afgelope 22 jaar deel van die pinotage-reis te wees en sien uit na sommer nog baie jare saam. Absa bly daartoe verbind om die unieke en trots Suid-Afrikaanse wyne van pinotage-druiwe te bemark. Die Absa-Top-10-Pinotage-kompetisie het inderdaad ’n belangrike platvorm vir die erkenning van uitnemendheid in die wynmaakbedryf geword.”

Kanonkop het geskiedenis gemaak deur die Top-10-lys die 13de jaar met sy driemalige IWSC internasionale wynmaker van die jaar, Abrie Beeslaar, te haal.

Flagstone van Somerset-Wes het tot dusver nie minder nie as ses trofeë met sy Writer’s Block Pinotage verower, terwyl Beyerskloof reeds agt trofeë danksy sy Diesel Pinotage gewen het.

Allée Bleue se Black Series Old Vine Pinotage 2016, druiwe uit die Piekenierskloof, is die eerste Old Vine Project-wyn wat ’n gesogte Absa-Top-10-trofee verower het.

Lyngrove en Kaapzicht voltooi die lys van Stellenbosse wenwyne met hul Lyngrove Platinum Pinotage 2016 en Kaapzicht Steytler Pinotage 2015 onderskeidelik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.