Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sake
Tegnologie ‘sal vroue bemagtig’

Deur die jare het vroulike bloukraagwerkers nie regtig enige sê oor hul keuses as ingeperkte en oorwegend onopgeleide werkers gehad nie. Tegnologie sal in die vierde nywerheidsrevolusie toegang aan vroue verleen vir werksgeleenthede waarvan hulle voorheen uitgesluit was weens hul gebrek aan fisieke krag, uithouvermoë en opvoeding.

Om hierdie potensiaal te ontgin, moet ondernemings aan vroue vaardighede en geleenthede bied om aan tegnologie gewoond te raak om sodoende ’n behoorlike bestaan te maak, sê dr. Lize Barclay.

Barclay is ’n senior lektor in toekomsstudie en stelsels aan die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool (USB) en bydraer tot die Vroueverslag van 2018 vir die Suid-Afrikaanse Raad vir Mensepraktyke (SABPP) wat pas bekend gemaak is.

Werksverskaffing vir vroue in Suid-Afrika het van 1999 tot 2016 gestyg. Vrouewerkers het op vaardigheids- en tegniese vlak van 40% tot 46% gestyg, op semigeskoolde vlak van 39% tot 42,8% en op ongeskoolde vlak van 29% tot 40,7%.

Die loopbaanvooruitsigte van vroulike bloukraagwerkers en meegaande lone is egter steeds aan die onderpunt van die mark.

“Vroulike bloukraagwerkers wat in ’n hoofsaaklik manlik oorheersde bedryf en nywerheid werk, met die uitsondering van die klere- en tekstielbedryf in Suid-Afrika, moet dikwels die hele gesin met ’n enkele inkomste onderhou. Daar word steeds onderskei op grond van geslag ten opsigte van watter werk ‘aanvaarbaar’ is vir vroue en stadige vordering word gemaak om vroue te lok as ambagsmanne met finansiële en loopbaanpotensiaal.”

Barclay sê die huidige definisie van bloukraagwerkers is mense met lae of geen vaardighede nie wat hande-arbeid verrig en oorwegend met hul hande op monteerlyne werk, of as skoonmakers of werkers wat instandhoudingswerk verrig.

Dié uitkyk sal verander met geleenthede wat die vierde nywerheidsrevolusie inhou.

“Hoewel die spreekwoord ‘ ’n vrou se plek is in die huis’ al eeue lank reeds bestaan, was die huis die middelpunt van produksie vir gesinne. Kos en klere maak, pottebakkery, spin en weef, die inlê van voedsel, brou van alkohol, die maak van juweliersware en boerdery was take wat vroue reg oor die wêreld trots uitgevoer het.

“Die rol van vroue as eggenote, produsente en verskaffers het van een kultuur na die ander verskil, net soos vandag.

“Waar die eerste, tweede en derde nywerheidsrevolusies die rolle, verantwoordelikhede en lewensbestaan van bloukraagwerkers bedreig het, met vroue wat besonder kwesbaar was, wil dit lyk asof witboordjiewerkers in die vierde nywerheidsrevolusie bedreig word. Dit ontsluit moontlik die potensiaal vir bloukraagwerkers, en veral vroue, om vir hulle ’n nuwe toekoms te skep.”

Sy sê dis nie nodig om skrikkerig te wees vir die vierde nywerheidsrevolusie nie. Sakeondernemings moet eerder huidige indiensnemingstrukture heroorweeg en tegnologie gebruik om vroue te bemagtig om groter potensiaal te skep en sodoende meer waarde tot die werkplek te voeg.

“Die groeiende vraag na etiese, volhoubare en verantwoordelike besighede en produkte bied geleenthede vir vroue om weer aktief by te dra tot die vervaardigingsektor van Suid-Afrika as ambagsmanne en innoveerders.

“Werk wat vantevore vir vroue uitgesluit was weens hul gebrek aan fisieke krag en uithouvermoë, sal toeganklik wees weens draagbare tegnologie, hommeltuighulp en ondersteuning deur die ‘internet van dinge’ (Internet of Things). Dit sal die keuses van werknemers wat vir werkgewers beskikbaar is, verbreed. Vroue sal die gemengde en virtuele realiteit kan gebruik om produkte en prosesse te ontwikkel, saam te stel, te verander en te kommunikeer met ’n bot, ’n toesighouer en medewerkers van oral in die wêreld.”

Barclay sê tegnologie as die ondersteuningstelsel vir vroulike bloukraagwerkers kan verkope aanhits, akkuraatheid verbeter, masjienstaantye beperk en moontlikhede vir meer kliënte en produkte skep.

“Bestaande vroulike bloukraagwerkers kan leer om te kodeer, aangesien dit ’n vaardigheid sal word wat soortgelyk is aan tik. Hulle moet gemaklik wees met tegnologie en verseker word dat hulle nie net bestem is vir pienkkraagposisies nie, maar vir ’n wêreld met goedbetaalde vakmanposte wat vir hulle beskikbaar is.”

Barclay wys egter daarop dat die verantwoordelikheid van sakeondernemings nie net is om vroulike bloukraagwerkers se vaardighede te verskerp nie, maar om dit vir hulle aanloklik te maak en te hou, moet nywerhede werkomstandighede vir vroue herstruktureer.

“Gelykheid is ’n sensitiewe kwessie. Aan die een kant verdien vroue gelyke betaling vir gelyke werk, maar kry unieke behandeling terwyl hulle swanger is, voedsel wat voorsien word, en omstandighede terwyl hulle na en van hul werkplek pendel. Witkraagwerkers het reeds ’n reusesprong in hierdie verband gemaak om ’n veilige en gemaklike werksomgewing te verseker, maar vir baie bloukraagwerkers is die gaping selfs groter. In Suid-Afrika gebruik vroulike bloukraagwerkers taxi’s, treine en busse om te pendel, en gewoonlik is dit die laaste kilometer na of van die op- of afklimplek waar hulle baie kwesbaar is vir aanvalle. Ondernemings moet dié risiko’s besef en beskerming teen aanvalle en verkragting bied, veral wanneer vroue nagskof werk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.