Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
David Martin oorlede: ‘It was a way of life’

Op 27 Januarie het David Martin, ’n besonderse sokker­speler van Stellen­bosch, die weg van alle vlees gegaan . . .

Inderdaad kan ons na hom verwys as die sokkerheld van sy tyd wat diep spore in die sokkerwêreld oor die Wes-Kaap getrap het.

In gesprek met hom het hy op sy beskeie manier my die volgende meegedeel:

“Ek het as voorspeler vir Spes Bona uitgedraf en my job was om doele aan te teken,” wat natuurlik ’n korrekte weerspieëling van sy talent is, as ’n mens na sy rekord kyk, veral teen Idasvallei-, Newtons- en Nelsons-sokkerklubs wat hy beskou het as groot teenstanders.

“Jy moes regtig jou spel teen hierdie manne ken en as ek iemand moet uitsonder, sal dit Kaballies Lindoor wees wat baie hard kon speel. Daar was ook die twee Combrinck-broers, Sakkie en Arend, asook my eie broer, Ikey. Dan was daar ander spelers van Cape and District in Wynberg wat my taamlik uphill gegee het”.

Sy briljantheid en vernuf op die veld het in sy geboorte-omgewing van die stofvelde van Die Vlakte gelê waar jy “ . . . maklik in die sportveld kon ploeg met stukkende kniekoppe, arms en bene”.

Gevra na sy groot liefde vir sokker, het ek die volgende geesdriftige antwoord gekry:

“Dit het ek seker in die gene van my pa gekry en natuurlik ja, my ma, wat in 2009, op 92-jarige ouderdom nog TV-sportprogramme gekyk het en sy kon jou maklik ’n opsomming van wedstryde met spelers en al gee.

“Daar was ook die ander groot invloede van onderwysers soos mnr. Jonathan wat my maklik kon piets as ek voor die doelpale faal. So onthou ek ook vir Phillip Wyngaardt by die Engelse skool en Ossie Woodman by Lückhoff. Hierdie manne het ’n stewige grondslag gelê.

“Die omgewing waarin ek opgegroei het, het seker maar ook ’n rol gespeel waar ons laaities sokker geëet en geslaap het. It was a way of life.”

Ek vra hom toe oor die wedstryde in Idasvallei:

“Ons het elke Saterdag met die bus van Die Vlakte na die veld in Idasvallei gegaan, maar baie kere het ons sommer gedraf, want daar was nie geld vir busfare nie. Dit was eintlik maar ’n goeie manier om fiks te bly.

“Die veld was teen daai tyd stampvol en jy moes behoorlik na iemand soek tussen al die skare.

“As daar ’n goal ge-score was, was daar groot lawaai soos die toeskouers oorverdowend teen die sinke wat die veld omring het, gestamp het. Dit het my koue rillings gegee.”

As ek ’n wêreldspan van gehalte moes saamstel, sou David sekerlik in die voorste linie speel wat duidelik weerspieël word in sy rekord:V WP-speler vir tien jaarV Dien as kaptein vir etlike jare van die WP-span V Kaptein van ’n Suid Afrikaanse span in 1972V Direkteur van afrigting vir WPV Rig Sacos XI afV Speel vir Cape Town Spurs vir vyf jaar lank.V Hulpskeidsregter in Tokio vir die Wêreldbeker vir gestremdesV Ontvang twee pryse van die Wes-Kaapse ministerie van sport.

David, mag jy sag op die aarde rus en mag die engele jou met ope arms ontvang.

Hamba Kahle, hero en legend.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.