Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Fantastikulêre swem vir kanker!

Hoe ver sou jy gaan om jou saak te ondersteun? Sou jy die koue Kaapse water van Robbeneiland tot die land aandurf? Dié groep oud-Maties het dit egter op 1 Desember die tweede keer gedoen!

Vanjaar het die groep bestaan uit vier mans en vier vroue: Durr Steenkamp, Renier van Eeden, Henk Smit, Jano Theunissen, Susan Ferreira, Isme Steenkamp, Melissa Schultz en Annelet Rossouw het dié ysige water ten bate van die organisasie Love Your Nuts aangepak.

“Ek en Renier wou reeds van universiteitsdae af die swemtog van Robbeneiland af aanpak, maar ons het nooit daarby uitgekom nie. In 2016 het die twee van ons deelgeneem aan die Nuts and Bolts Rally ten bate van Love Your Nuts, ’n organisasie wat die bewusmaking van testikulêre kanker bevorder. Dis ook daar en dan wat ons ’n cause ontdek het,” vertel Durr Steenkamp, wat die swem inisieer het.

So het vier van hulle, met net een vrou (Susan) onder die hane, verlede jaar die eerste keer ’n geldinsameling vir Love Your Nuts gedoen. Vanjaar het hulle besluit om dit verder te neem – dié keer met vier mans en vier vroue. Hul doel was om R8 000 per persoon (dis nou vir die mans) in te samel vir die saak.

“Die ding wat ’n mens die meeste vang, is die koue! Elkeen het sy of haar eie swemprogram gevolg en elkeen het so ses of agt maande voor die tyd begin oefen. Natuurlik kon ons nie in die see oefen nie, so jy kan nie vir die koue en strome gereed maak nie,” sê Durr.

Die water was besonder koud vanjaar. Die see was sowat 10 grade toe hulle begin en met slimhorlosies kon hulle die temperatuur heelpad meet. Dit het egter nooit bo 15 grade gestyg nie, en die gemiddelde was sowat 12,5 grade. Daarbenewens het die mans as deel van die uitdaging slegs Speedo’s gedra het.

Soos die kraai vlieg is dit 7,5 km van Robbeneiland af tot op die strand, maar met inagneming van die seestrome is die swemroete nader aan 8,5 km. “Die weer en wind is onvoorspelbaar en ons het teen so 3 km ’n erge seestroom getref wat ons sowat 500 m uit die pad gestoot het. Ongelukkig het Renier op dié tydstip tekens van hipotermie begin toon en hy moes uit die water klim.”

Die mans het in drie uur klaargemaak; die vroue net meer as drie en ’n half uur.

“Ons het elke twee kilometer gestop om te hergroepeer en seker te maak almal is nog veilig. Ons ondersteuning was ongelooflik. Dit help so baie dat jy mense langs jou op bote het om jou te motiveer.”

’n Groep robbe het vir sowat 2 km saam met hulle geswem. Gelukkig het hulle nie haaie gewaar nie.

Die dag is gereël met die hulp van Big Bay Events wat die bote verskaf, al die toestemming verkry, die skeepslyne gewaarsku en ondersteuning gebied het. Bote was voor en agter die swemmers wat min of meer ’n lyn gebied het sodat hulle op koers kon bly. Verder was ’n span op die strand om hulle dop te hou.

Susan het ná die swem vertel: “Ek het myself (en my ouers) ’n jaar gelede belowe nooit weer nie. Maar ons ‘swemste’ groep se ondersteuning en gees het my tog oortuig om die yskoue 8 km in die Atlantiese Oseaan aan te durf. Dit was weer die yskoue en stywe hande, blou lippe, moeë arms en die gedagte aan ’n haai werd. ’n Mens voel redelik klein en blootgestel, maar die ander swemmers en Blue Peter wat stadig maar seker nader kom, hou ’n mens aan die gang. Die gevoel om só iets klaar te maak is ongelooflik en letterlik onbeskryflik!”

Annelet sê dit was ’n ongelooflike “bucket list”-ervaring. “Om so klein te voel in die natuur laat ’n mens net weer besef wie die baas is. Seer skouers, koue water, sout lippe en ’n geskaafde nek was alles die moeite werd.”

Melissa het gesê dit was ’n fantastiese swem vir ’n ongelooflike saak. “Ek was mal oor elke oomblik, selfs al het ek myself amper doodgeskrik toe ’n rob deel van die poging geword het.”

Henk voeg by: “Hierdie was die eerste keer dat ek so uitdaging aangepak het. Ek het deur hel gegaan met al die elemente wat ’n mens onophoudelik beproef, maar dit was uiteindelik al die pyn en moeite werd.”

Die groep se geldinsameling is egter nog nie verby nie. Hulle hoop om hul doelwit teen die einde van Desember te bereik wanneer die insameling sluit.

Mense wat daartoe wil bydra, kan geld skenk deur die webblad te besoek: www.givengain.com/ap/nutsswim

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.