Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Fyn vrou lig swaar ysters

Sy weeg 59 kg en is 1,56 meter lank, maar daar is egter veel meer aan Johanni Taljaard (34) as haar goed geboude dog fyn statuur.

Taljaard, wat in Paradyskloof woon, hou die SA rekord vir gewigoptel in haar gewigsafdeling (59 kg en onder) en is die tweede beste atleet in hierdie sport in Afrika.

Sy het verlede maand drie silwermedaljes by die Afrika-gewigoptelkampioenskap in Egipte bo die kop gelig – een in die “snatch”-kategorie, een in “clean and jerk” en een algeheel.

In die eerste waar sy 83 kg opgetel het, moes sy die gewig van die grond af in ’n wye greep in een beweging bo haar kop optel. In die tweede waar sy 102 kg opgetel het, moes sy eers die gewig op haar skouers laat rus en dit dan bo haar kop lig.

Sy sê die sport is meer tegnies as om bloot gewig op te tel. “Byvoorbeeld, as jou elmboog net ’n bietjie knak of ’n bietjie beweeg, tel dit nie, al het jy die gewig opgetel.”

Johanni het op skool en universiteit gimnastiek gedoen en in 2013 het sy oorgeskakel na die sport CrossFit, waarvan gewigoptel een van die komponente is. Toe sy aan die einde van 2016 ’n afrigter kry om haar hiervoor sterker te maak, het hy gesê sy het ’n talent vir gewigoptel.

Johanni, wat in 2016 die beste CrossFit-atleet in die land was, het in 2017 aan haar eerste gewigoptel­kampioenskap deelgeneem en haar SA kleure verwerf. Sy het besluit om heeltemal na gewigoptel oor te skakel nadat sy Suid-Afrika by die Statebondspele in 2018 verteenwoordig het.

Gewigoptel is ’n groot Olimpiese sport, maar is nie baie bekend in Suid-Afrika nie.

“Wanneer ek vir mense sê ek doen gewigoptel, dink hulle ek praat van liggaamsbou (bodybuilding).”

Omdat dit nie ’n groot sport in Suid-Afrika is nie, kry atlete geen finansiering nie. Sy moet haar eie reiskoste en verblyf betaal wanneer sy oorsee deelneem.

“Ek het gelukkig private borge, Spescare en Finvice, wat my help, maar jy kan nie die sport in Suid-Afrika as ’n loopbaan beoefen nie,” vertel die biokinetikus. Sy doen baie oefeninge om sterk te bly. “Om voor te berei vir kompetisies kan jy jou gewigoptel in verskillende dele opdeel. Jy kan baie hurk om jou bene sterker te maak. Jou heupe moet baie vinnig wees en jou bene moet die sterkste wees. Jy vang die gewig met jou arms, maar die krag kom uit jou bene om die gewig opgelig te kry.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.