Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Jamestown se krieketster steeds ’n bittereinder op die veld
Riaan van de Rheede en Kenny Jackson in ’n ligte luim by die toernooi.

Die meeste topkrieketspelers blyk om teen hul middel dertigs te begin “afkoel” voordat hulle dink aan aftrede.

Hoewel party “afgetrede spelers” vir liefdadigheids­wedstryde terugkeer, is daar slegs ’n hand vol spelers wat in hul veertigs, en nog minder in hul vyftigs, aanhou krieket speel.

Riaan van de Rheede (52) is ’n krieketliefhebber van Jamestown en een van die goue oues wat nie net fees- of liefdadigheidswedstryde wil speel nie, maar ook kompe­terend wil speel.

Van de Rheede en nog 15 spelers van oor die land heen het Suid-Afrika onlangs by die eerste oor 50’s-krieketwêreldbe­kertoernooi verteenwoordig. Dié toernooi is van 20 Novem­ber tot 5 Desember in Sydney, Australië, gehou.

“Ek het die toer aan my pa en die Van de Rheedes opgedra wat nooit die geleentheid gehad het om op hoë vlak te speel nie as gevolg van die situasie in ons land,” sê Van de Rheede.

Aangesien die kriekettoer­nooi vir spelers ouer as 50 informeel deur vrywilligers georganiseer word, is die Suid-Afrikaanse spelers daarvoor verantwoordelik om hul eie koste te dek.

Dié Suid-Afrikaanse span spog met voormalige topkrieket­spelers, onder andere die voormalige WP-kolwer Kenny Jackson. Volgens die Suid-Afrikaanse spanbestuurder, Roger Moult, was daar uitdagings om die span bymekaar te bring.

“Aangesien dit die eerste krieketwêreldbekertoernooi is vir spelers ouer as 50, was dit moeilik om gehaltekrieket­spelers te kry wat steeds die spel speel en boonop fiks genoeg is om die wedstryde te speel.

“Om dit te finansier, was ook ’n uitdaging. Nietemin het ons dit reggekry om 16 spelers van oor die land heen bymekaar te kry wat provinsiale of premierliga­krieket op een of ander stadium van hul loopbaan gespeel het.”

Die Suid-Afrikaanse span het sewe wedstryde van 45 beurte elk teen Australië, Engeland, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Kanada en Wallis gespeel.

Die Suid-Afrikaanse span het vierde geëindig nadat hy in ’n strawwe wedstryd teen Kanada in die plaatfinaal geklop is.

Van de Rheede is onder die spelers wat vir die nie-amptelike span van die toernooi gekies is.

“Ons is trots op dit wat ons in die omstandighede reggekry het.

“Ons het nie noodwendig die beste span saamgevat nie, maar die manne se harte was in die toernooi,” sê Van de Rheede.

Benewens die deelname aan die krieketwêreldbeker­toernooi het dié Suid-Afrikaners ’n vennootskap met Mark Boucher Legacy-program, ’n organisasie sonder winsbejag wat fokus op die beskerming van die renoster en ander bedreigde spesies in Afrika.

Volgende jaar beoog die krieketliefhebbers om ’n liga vir bo 50-jariges in al die provinsies te stig ter voorbereiding vir die tweede krieketwêreldbekertoernooi vir spelers ouer as 50 wat in 2020 in Kaapstad sal plaasvind.

Van de Rheede, wat ook tans die voorsitter van die Scorpions-krieketklub in Stellenbosch is, hoop dat dié toernooi teen 2020 finansiële ondersteuning van Krieket Suid-Afrika sal kry.

“Ek hoop daardie tyd sal ons krieketmoederliggaam inkoop in die idee en ons ondersteun om sodoende ’n groot fees in die Wes-Kaap te hou.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.