Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Legendariese 63-jarige atleet volhard op die baan

Pniël se maraton-man Christo Jefthas spog met talle medaljes wat hy oor die jare in padwedlope losgehardloop het.

Jefthas het onder meer in 11 Two Oceans-halfmarathons en 12 Kaapse Wynland-marathons deelgeneem. Hoewel hy sy 63ste lewensjaar bereik het, is hy nietemin volstoom aan die gang en selfs besig om nuwe atlete touwys te maak.

Rashied Nackerdien (37), wat nog nooit aan enige sport deelgeneem het nie, vertel hoe die “groot man” sy potensiaal raakgesien het.

“Meester het eendag voorgestel dat ek saam met hom baan toe gaan. Daar het ons ’n tydjie vertoef en hy het my touwys gemaak. Ek het gesê ek kan hardloop, maar ek is nou nie so goed nie.”

Jefthas het toe saam met die nuwe atleet van die Paarl ’n pad begin stap (ofte wel gedraf).

“Ek het vir hom gesê ek kan iets uit hom kry, maar hy het nie self daardie vertroue gehad nie. Ek het hom op die Dal Josafat-pad gevat en hom gewys hoe om sprints te doen. Jy gaan nie die eerste keer ver hardloop nie. Jy moet darem eers fiks word. Ek kon sien hy het die regte lengte; al wat hy nodig gehad het was om in homself te glo.”

Ná ’n paar strawwe oefensessies wat parkruns in die Paarl en drafsessies soggens vieruur ingesluit het, kon Nackerdien met trots terugkyk op ’n suksesvolle vertoning in die Kaapse Wynland-halfmarathon wat in November vanjaar gehou is.

“Ons het die dag van die halfmarathon, die 21,1 km, by Eikestad Primêr bymekaargekom. Meester het toe verduidelik ons gaan deur ‘Paul Ross’ kom en Coetzenburg en al die ander plekke. Die name alleen het my al klaar bang gemaak,” sê Nackerdien.

“Ek kon dit nie glo nie; ek het gedog ek gaan twee uur en dertig minute haal, maar toe doen ek dit in twee uur en dertien minute. Vir my eerste halfmarathon vir iemand wat nog nooit in sy lewe gehardloop het nie, wil ek vir daardie groot man al die erkenning gee en baie dankie sê.”

Benewens sy rol as afrigter is Jefthas die marathon-man steeds aktief, “maar ek is nou meestal op die baan”, voer hy aan.

Hy het onder meer in die 60-plusgroep ’n goue medalje in die Kaapse Wynlande-halfmarathon gewen.

“Ek het verskillende afstande gehardloop, insluitend die 10-, 15-, 21- en 30-kilometer-marathons, asook die Two Oceans oor 56 kilometer,” vertel ’n trotse Jefthas.

Maar wanneer dit by die Comrades-marathon kom, is daardie uitdaging “te kwaai”.

“Ek het omtrent 20 jaar rugby gespeel en my knieë is dik geskop. Ek kan nie juis 25 [kilometer] hardloop nie, dan begin ek sukkel. As ek dit moet doen, sal ek myself eintlik martel. So, ek is maar meestal op die baan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestad Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.