Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Maties stel hoë standaard in VB
HJ Luus val oor die doellyn vir sy drie vir Maties in die maroentruie se openingswedstryd van die Varsitybekerreeks vir 2020. Maties het Shimlas oortuigend met 60-16 geklop.
Remu Malan, die op-en-wakker-skrumskakel van Maties, lê rieme neer doellyn toe vir sy drie in die wedstryd teen Shimlas Maandagaand. Foto’s: Danie Keet

Die slagting het Maandagaand 3 Februarie begin.

Maties, die verdedi­gende kampioen in die Varsity­beker-rugbyreeks, het verlede Maandagaand met uithaler­rugby ’n waar­skuwing aan sy teenstanders gerig in vanjaar se kompetisie ná ’n wegholsege oor Shimlas.

Die Maroentruie het die wedstryd, wat hy uit die staanspoor oorheers het, oortuigend met 60-16 gewen.

Meer as 15 000 studente het op die Danie Craven-stadion toegesak om die eerste van vanjaar se wedstryde om die gesogte Varsitybeker te aanskou.

Dit was sommer die Maties se kaptein, Ben-Jason Dixon, wat die telbord aan die rol gesit het met ’n drie kort ná die afskop. Die doelskop is deur die heelagter, Adrian van der Bank, oorgeskop en die Maroenmasjien was op dreef.

Kort daarna was dit weer so ná ’n steekskoppie wat deur Munier Hartzenberg opgevolg is en hy in die hoekie oor is vir sy drie.

Teen die vinnige tempo van die spel waar Maties in feitlik elke faset van die spel oorheers het, was die telling gou 12-0 met die eerste strategiese pouse en dit was toe reeds duidelik dat die Vrystaters nie antwoorde het vir die vasberadenheid van die Stellenbossers nie.

Kort ná die breek het die senter Dawid Brits ná ’n sterk lopie al langs die kantlyn af met ’n sierlike duik sy rekening met ’n sewepuntdrie geopen. Van der Bank was weer suksesvol met die doelskop.

Die bonuspuntdrie is kort daarna deur Mike Mavovana gedruk, en dit was ook ’n sewepunter.

HJ Luus het die eerste helfte se laaste drie vir Maties gedruk om die rustydtelling 37-0 te maak.

In die tweede helfte was dit meer van dieselfde medisyne en Maties het nog 23 punte aangeteken met drieë deur Remu Malan (skrumskakel), Schalk Erasmus (stut) en die agtsteman, Marcel Theunissen.

Die Maties se tuiswedstryde in die Varsitybekerreeks is as volg:

* Maties vs. SUT - 17 Februarie

* Maties vs. Tuks - 2 Maart

* Maties vs. UK – 9 Maart

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Eikestadnuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.